Man wat Vrystaatse motorhandelaar bedrieg, gesoek
Die geld as betaling vir die motor het nie in die onderneming se bankrekening gewys nie.
Die Welkomse Eenheid vir Kommersiële Misdaadondersoeke doen ’n beroep op die publiek om te help met die opsporing van Mika Ramosoeu (34).
Ramosoeu word glo as ’n persoon van belang beskou in ’n bedrogsaak waartydens ’n silwer Volkswagen Polo ter waarde van R162 000 by ’n motorhandelaar in Welkom gekoop is. Daar word beweer dat die 46-jarige eienaar die voertuig op Dinsdag, 23 Desember, aan die kliënt verkoop het. Die geld as betaling vir die motor het egter nooit in die besigheid se bankrekening gewys nie.
Die polisie doen ’n beroep op enigiemand met inligting wat kan lei tot die opspoor van Ramosoeu om na vore te kom. Speurder-konstabel Sesing Sesing van die Welkomse Eenheid vir Kommersiële Misdaadondersoeke kan geskakel word by 083 875 4897, of die Stop Misdaad nommer by 08600 10111. Inligting kan ook anoniem via die MySAPS-toepassing gestuur word, sê polisie-woordvoerder sersant Palesa Thabana.




