Dankbaarheid die somtotaal van dertig jaar vir veearts-egpaar
Veearts-wees is in beide haar en Johan se bloed. "Dis 'n groot storie van ons lewens", gesels die egpaar.
n Januarie 1996 koop drs. Johan en Brigitta Wessels die praktyk van dr. Piet van der Lingen in Allenbystraat, en word die Vrystaatse dorp, Parys, hul hartsplek waar hulle oor jare gegroei het.
Hier by Parys Dierehospitaal is lang ure gewerk en baie opofferings oor drie dekades gemaak.
Daar is gebreek, gebou en uitgebrei, maar wat Johan en Brigitta die meeste van die dertig jaar bybly, is die ongelooflike ondersteuning van ‘n dorp se mense van die dag wat Parys huis geword het.
Vir dié gemeenskap is hul lief. Daar is baie wie van dag een kliënte by hul was. “Ons het mense in die gemeenskap sien trou, en later ook hul kinders leer ken. Gedeel in die dorp se lief en leed en gesien hoe die dinamika van Parys verander het. Van ‘n hoofsaaklik aftreedorp tot ‘n kleurvolle kunstenaarsgemeenskap, en later ook jonger sakelui en gesinne wat vandag ‘n deel van die gemeenskap is,” vertel hulle.
Johan en Brigitta het destyds as jong egpaar met hul eersteling – toe nog ‘n baba, uit Engeland teruggekeer na Suid-Afrika waar albei na hul studies gepraktiseer het. Hulle het gesoek na ‘n praktyk om te koop in die Vredefort-omgewing waar Johan se wortels lê.
Vir Brigitta wat in Natal in ‘n Engelse huis grootgeword het, was die idee om hulle in die Vrystaat te vestig, toe nog wildvreemd, maar vandag is daar vir haar geen beter plek as Parys nie.
Die praktyk wat hul gekoop het, het daardie jare meerendeels grootdiere hanteer, vertel Brigitta. Oor die jare het sy en Johan die kleindierpraktyk gevestig en uitgebrei na wat dit vandag is. Ook die grootdierpraktyk het onder Johan se hand geweldig gegroei. Die aanvanklike vyf personeellede het verdriedubbel na 15. Van die personeel is reeds 20 jaar in hul diens.
Verskeie veeartse is oor die jare deur die praktyk, en het Parys Diereshospitaal vandag vier voltydse veeartse.
Na 30 jaar kyk Johan en Brigitta terug met mooi herinneringe na wat oor jare opgebou is: vandat hulle vir die eerste tien jaar nadat hulle die praktyk gekoop het in ‘n eenslaapkamerwoonstel agter die praktyk gebly het, en Johan man-alleen by die 300 bloekombome moes afsaag om plek te maak vir ‘n groeiende praktyk. Van ons seuntjie se eerste woorde was: “Pappa boom saag,” onthou Brigitta.



Oor die jare het hul van hul pasiënte klein-klein leer ken, en hulle ook die laaste keer gegroet wanneer genadedood die einde was. Geslagte diere wat deur die praktyk se hande is.
Na jare as veearts is genadedood, hoewel deel van die beroep, steeds van die swaarste dinge wat sy moet doen, vertel Brigitta. “Jy voel mense se pyn en kan ek jou verseker – ek neem dit nie ligtelik op nie,” sê sy.
Veearts-wees is in beide haar en Johan se bloed. “Dis ‘n groot storie van ons lewens. Om ‘n plattelandse veearts te wees, verg baie. Dit is ‘n leefstyl. Daar is dae wat ons nie van die perseel af kom nie omdat dit net te besig is. Mense kom van sover as Potchefstroom, die Vaaldriehoek en die Rand na die praktyk, maar op die einde van die dag is die belangrikste om te weet dat jy ‘n verskil kon maak in die welstand van diere in totaliteit,” sê hulle.
Die mense van Parys was van die begin af goed vir Johan en Brigitta, maar die bydrae wat die egpaar oor dertig jaar in die dorp gelewer het, kan ook nie misgekyk word nie. Van hul betrokkenheid by die plaaslike DBV, tot die hulp wat daar was om te help skoonmaak in Allenbystraat en by die Rooidam, en op soveel ander maniere.
“Ons kan nie vir ‘n beter plek gevra het om te wees nie. Dit was touching,” sê Brigitta, en as daar een ding is wat hulle as nalatenskap eendag wil agterlaat, is dit dat daar gebou sal word op die naam en dit wat by Parys Dierehospitaal oor 30 jaar opgebou is.




