Heilbron gaan deel word van Metsimaholo
Die finale verkiesingsdatum is nog nie bekendgemaak nie, maar kiesersregistrasienaweke vir die verkiesing sal gehou word op 27 & 28 Junie, en 25 & 26 Julie.

Planne om Heilbron deel te maak van die Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit, gaan voort.
Heilbron-kiesers sal vir die komende Plaaslike Munisipale Verkiesing in Metsimaholo kieswyke geregistreer word, het Barileng Dichabe van die Munisipale Afbakeningsraad (MAR) bevestig. Die dorp vorm tans deel van die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit waarvan Parys, Koppies, Vredefort en Edenville ook deel is.
Die finale datum van die verkiesing is nog nie deur President Cyril Ramaphosa bekendgemaak nie, hoewel die Onafhanklike Verkiesingskommissie reeds sy datums vir registrasienaweke vir kiesers bekendgemaak het.
Vir die Ngwathe Plaaslike Munispaliteit sal die inlywing van Heilbron by Metsimaholo beteken dat Ngwathe vier minder kieswyke sal hê met ‘n totaal van 14 kieswyke vir die oorblywende dorpe binne sy grense. Metsimaholo sal in totaal 23 kieswyke hê wanneer Heilbron deel word van dié munisipaliteit.
MAR het vroeër verduidelik dat verskeie faktore in ag geneem word wanneer voorstelle gemaak word vir herbepaling van munisipale grense. Dit sluit onder andere in aspekte rondom behuisingspatrone, werksgeleenthede, vervoer en infrastruktuur.
So byvoorbeeld verbind die R57 Heilbron met Sasolburg, en is die afstand tussen Heilbron en Sasolburg heelwat nader as wat Heilbron van Parys af is. Met die byvoeging van Heilbron by die Metsimaholo munisipaliteit word die gebied wat kan bydra tot ekonomiese ontwikkeling en munisipale dienslewering vergroot, is vroeë deur MAR in ‘n verklaring gesê.
Die proses vir die herbepaling van munisipale grense sluit in dat MAR besware moet oorweeg en dan terugvoer moet gee aan raadslede, gemeenskapslede en belanghebbendes.
Besonderhede oor die grensveranderings van munisipaliteite wat geraak word, moet dan in die betrokke Provinsiale Gazette gepubliseer word, waarna die Onafhanklike Verskiesingskommissie in kennis gestel word om te bepaal hoe dit die verteenwoordiging van kiesers op geaffekteerde munisipale rade sal raak met ‘n volgende plaaslike munisipale verkiesing.
In gevalle waar munisipale grensveranderings nie verteenwoordiging op munisipale rade raak nie, is die verandering van krag vanaf die datum soos gepubliseer deur die LUR vir Plaaslike Regering in die provinsiale Gazette.
Die Munisipale Afbakeningsraad het in totaal 215 aansoeke op 13 Desember 2023 oorweeg, en toe uiteindelik 70 gevalle uitgewys vir die ondersoek na munisipale grensherbepalings.
Nadat al die voorstelle in die provinsiale Gazette gepubliseer is, is in totaal 541 besware ontvang wat toe oorweeg is, en terugvoer gegee is, voordat die finale besluite gepubliseer kon word.
MAR het destyds bevestig dat openbare verhore oor die kwessie van inlywing by Metsimaholo, in beide Phiritona-Heilbron, en Zamdela-Sasolburg gehou is en dat meeste mense die voorstel aanvaar het.
Die DA Metsimaholo koukus het vroeër egter die inlywing in geheel teengestaan, en was in sy standpunt ondersteun deur die EFF, VF+, MCA en ATM.
Die DA en ander opposisiepartye het ook toe tydens ‘n spesiale sitting van die Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit teen die inlywing gestem.
Die voorstel het ‘n paar jaar gelede ook voor die Afbakeningsraad gedien en het toe hewige protes, gepaardgaande met onluste uit die geledere van Metsimaholo ontlok.
Die inlywing van Heilbron by Metsimaholo sal in praktyk beteken dat Ngwathe se skuld aan Rand Water vir watervoorsiening in Heilbron dan na alle waarskynlik aan Metsimaholo oorgedra sal moet word, en dat Metsimaholo ook Heilbron se gedeelte van Ngwathe se skuld aan Eskom kan erf.
Dieselfde geld ook vir befondsing van kapitale projekte wat pro rata uitgewerk en oorgedra sal moet word, het Tammy Breedt, VF Plus LP gesê. Sy het egter bygevoeg dat dit ‘n baie tydsame proses kan wees.



