Chubby Chick-saak: Hof wag op aansoek oor beskuldigde se geestesvermoë
Die hofsaak sal na verwagting in Mei voortgaan, sodra die aansoek oor Joubert se geestesvermoë voorgelê word.
Die dubbele moord saak teen die 73-jarige Robert Joubert, wat teregstaan op hierdie aanklagte is weer in die Streekhof in Potchefstroom vanoggend (Maandag, 23 Maart) uitgestel. Hierdie keer om ruimte te maak vir ’n formele aansoek rakende sy geestesvermoë.
Joubert het Maandag, 23 Maart, in die streekhof verskyn waar die hof bevestig het dat die verrigtinge tot 11 Mei 2026 uitgestel word. Die uitstel is om die verdediging in staat te stel om ’n aansoek ingevolge Artikels 77 en 78 van die Suid-Afrikaanse Strafproseswet te bring.
Dié artikels reguleer die geestestoestand van ’n beskuldigde en bepaal of hy geskik is om verhoor te word, asook of hy ten tyde van die beweerde misdryf strafregtelik aanspreeklik gehou kan word.
Volgens Sive Gunya, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Noordwes, bly Joubert intussen in aanhouding.
Die saak spruit uit die noodlottige skietvoorval op 10 November 2025 by die Fourie-broers se onderneming, Chubby Chick, in Potchindustria. Jonathan Fourie is op die toneel dood, terwyl sy broer, Deon Fourie, later in ’n Gautengse hospitaal aan sy beserings beswyk het.
Die voorval het verlede jaar groot opspraak in die gemeenskap veroorsaak, met vroeë aanduidings dat die beweerde motief moontlik verband hou met ’n eiendomstransaksie.



