CrimeLocal news

Verdagte nie voormalige werknemer van Chubby Chick

Chubby Chick in Potchefstroom het duidelikheid gegee oor die skietvoorval wat Maandag by hulle hoofkantoor plaasgevind het.

Die verdagte (73), wat vir Johnathan en Deon Fourie op Maandag, 10 November by Chubby Chick se hoofkantoor geskiet het, is nie ‘n voormalige werknemer nie en hou geen verbintenis met die maatskappy nie.

In ‘n persverklaring wat deur die maatskappy en familie van die Fouries uitgereik is, is daar bevestig die verdagering was moonlik ‘n eiendomstransaksie.

“Chubby Chick bevestig hiermee en is diep geskok oor ‘n tragiese voorval wat op Maandag, 10 November by die hoofkantoor in Potchefstroom plaasgevind het. Volgens voorlopige inligting is ’n vergadering tussen twee direkteure, Mnr Johnathan Fourie en Mnr Deon Fourie, en nog ’n individu gehou, vermoedelik oor ’n eiendomstransaksie.”

Die verklaring gaan voort om te sê Deon en Johnathan is na die vergadering geskiet en nie tydens die vergadering nie.

“Ná die vergadering het die individu die gebou verlaat, maar ongeveer 30 minute later teruggekeer. Op daardie stadium was Mnr Deon Fourie steeds in die raadsaal toe die verdagte die gebou binnegekom en hom verskeie kere geskiet het. Hy het om hulp geroep, waarna Mnr Johnathan Fourie onmiddellik gereageer en die verdagte in die raadsaal ontmoet het, waar hy ook verskeie kere geskiet is.”

Die maatskappy se sekuriteit het vinnig opgetree en die verdagte onder bedwang gebring.

“Sekuriteitspersoneel het toegetree en ’n verdere skietvoorval het plaasgevind. Die verdagte is gewond en na ’n plaaslike hospitaal vervoer, waar hy tans onder streng polisie toesig is. Tragies, is Mnr Johnathan Fourie is op die toneel oorlede. Mnr Deon Fourie is per lugvervoer na ’n hospitaal in Gauteng geneem, waar hy geopereer is. Hy is tans in ’n kritieke maar stabiele toestand in die intensiewe sorgeenheid.”

Die maatskappy wil dit ook duidelik maak dat dit nie ‘n rassevoorval was nie.

“Chubby Chick bevestig die verdagte het geen formele verbintenis met Chubby Chick nie en is nie ’n werknemer, oud-werknemer of kontrakteur nie. Hierdie voorval was nie rasseverwant nie, en die maatskappy veroordeel enige gerugte of bespiegelings wat andersins beweer.”

Besigheid sal soos normaal voortgaan.

“Die maatskappy se sakekontinuïteitsplan het onmiddellik in werking getree, en daarom gaan die maatskappy voort met sy bedrywighede soos normaalweg terwyl die welstand van sy mense geprioritiseer word. Omvattende beradings- en traumadienste is aan alle werknemers en hul gesinne beskikbaar gestel. Hierdie sessies is tans aan die gang, en verdere ondersteuning sal voortgesit word waar nodig.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button