Fisioterapeute en pasiënte brei saam aan borsprosteses vir borskankerpasiënte
Die publiek, veral bejaardes landwyd, word aangemoedig om betrokke te raak deur self te brei of te hekel, of deur die projek finansieel te ondersteun.
Samewerking tussen gesondheidspraktisyns en hul pasiënte het onlangs tasbare hoop gebring vir vroue wat hul borste weens borskanker verloor het.
Die praktyk Anne van der Merwe Physiotherapists in Eldoraigne, Centurion, het twee bokse vol gebreide borsprosteses aan Solidariteit Helpende Hand se Boesemvriendinne-projek oorhandig. Wat dié bydrae besonders maak, is dat nie net die fisioterapeute nie, maar ook hul pasiënte self hand bygesit en saam gebrei en gehekel het.
Boesemvriendinne voorsien gebreide of gehekelde borsprosteses aan vroue reg oor die land wat ‘n mastektomie ondergaan het, en nie silikonprosteses of rekonstruksie verkies of kan bekostig nie.
“Dit is besonders om te sien hoe mense van alle ouderdomme en agtergronde inkoop in hierdie projek. Die fisioterapeute én hul pasiënte het saam gebrei. Dit wys net weer hoe sterk gemeenskappe kan wees wanneer mense saamstaan vir ‘n groter doel. Dis vroue wat vroue dra,” sê Chandré Joubert van Solidariteit Helpende Hand.
Die projek groei jaarliks. In 2025 is 4 507 gebreide prosteses landwyd versprei in samewerking met die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA). Die doel vir 2026 is om nóg meer vroue te bereik deur groter gemeenskapsbetrokkenheid.
Volgens die span van Anne van der Merwe Physiotherapists was die projek self ‘n reis van ontdekking en samewerking.

Foto voorsien deur Solidariteit Helpende Hand
“Ons het tyd in ons dagboeke gemaak om by die praktyk saam te brei. Vir sommige was dit ‘n vaardigheid uit hulle skooldae, vir ander iets heeltemal nuut. Met leiding van kollegas, familie en selfs pasiënte het ons saam geleer en gegroei. Ten spyte van die uitdagings het ons dit ongelooflik geniet om deel te wees van iets wat ‘n werklike verskil maak,” sê Elaine Hough van die praktyk.

Boesemvriendinne word onder meer befonds deur die aankoop van brei- en hekelpakkies, asook deur die verkoop van spesiale sportkouse in samewerking met Sox Footwear en USN. Die fondse word gebruik om nog pakkies beskikbaar te stel sodat meer vrywilligers kan deelneem.

Die publiek, veral bejaardes landwyd, word aangemoedig om betrokke te raak deur self te brei of te hekel, of deur die projek finansieel te ondersteun.
“Selfs al kan jy nie brei nie, kan jy steeds help deur breipakkies aan te koop vir ons bejaarde breiers, of deur sportkouse te koop. Só word die sirkel van omgee net groter,” sê Joubert.



