Meer as 4 000 stap vanjaar die Kruistog
By vanjaar se Kruistog was daar ook 'n unieke Golgota-voorstelling.
Net meer as 4 000 mense, byna dieselfde hoeveelheid as verlede jaar, het op Goeie Vrydag, 3 April, ‘n unieke Paasbelewenis in die Vrystaatse dorp Vredefort gehad, toe die dorp se mense weer hul harte en strate oopgemaak het vir dié unieke Paasbelewenis. Mense het na die lofsang en gebruik van die nagmaal, ‘n 3km sirkelroete deur die dorp se strate gestap.


Elke jaar word ‘n vlot vir die Kruistog gemaak en het vanjaar se vlot ‘n Bybel en kruis voorgestel. Daar was ook ‘n unieke Golgota-voorstelling van die kruis, spykers waarmee Jesus aan die kruis vasgeslaan is, die kats, en spies wat in Sy sy gesteek is.


Die spykers wat vir die kruisiging gebruik is, is geensins vergelykbaar met die spykers wat vandag in hardewarewinkels gekoop kan word nie.
Hierdie spykers was tussen 13 en 18cm lank en omtrent 1cm in deursnee by die kop. Die V-vorm van die spykers het verseker dat hulle goed in die hout sou penetreer en die gewig van ‘n mens aan die kruis sou kon hanteer.

Die kruis was omtrent 3,8m lank, en die dwarspaal omtrent 2 meter lank. Die gewig van die kruis kon enigiets tussen 80 tot 140kg gewees het.
Die kruis wat vir die Kruistog gebou is, het 116kg geweeg.
Die hout wat gebruik was, is waarskynlik dennehout, wat ook vir die Kruistog-kruis gebruik is.







