Local newsNews

‘Ek gun myself tyd om siek te wees’ – Franz Geldenhuys

Franz het Donderdag sy sewende chemoterapie-behandeling gekry en vanaand tree hy op by 'n musiek fondsinsamelingsaand wat van sy vriende vir hom gereël het.

Sy hare het uitgeval van die chemoterapie, maar Franz Geldenhuys sê hy het vrede gemaak met hoe hy nou lyk. Sy blou oë straal pure lewenslus en duidelik het die fase 4-limfklierkanker nie sy sin vir humor aangetas nie.

“Hulle sê vir my ek gaan my wenkbroue ook verloor. Ek het klaar besluit as dit gebeur gaan ek elke dag vir my iets anders met ‘n oogpotlood teken waar my wenkbroue was. Dalk ‘n ry hartjies of kruisies,” lag hy.

Dan raak hy ernstig. “Ek het nie pyn nie, maar ek voel die kanker in my lyf. Dis moeilik om te beskryf, maar ek is bewus van elke orgaan. Dis ‘n dowwe groen gevoel.”

Franz het die afgelope paar maande geleer om na sy lyf te luister. Alhoewel hy steeds sy kore afrig en skoolhou, het hy sy skedule so aangepas dat hy elke middag kan rus. Sy musiek is steeds sy lewensbron.

 “Ek stap doodmoeg by ‘n skool in om ‘n koor af te rig, dan stap ek uit en voel gesond. Dis die musiek. Musiek lig my.” Hy dink nugter oor die kanker. Hy weet dit het deur sy liggaam versprei, maar sê hy sal die pad vir niks verruil nie.

“Ek leer so baie van myself en van my geloof, veral in die nag. Dan dink mens mos diep dinge.” Franz sê die kankerpad is baie maal erger vir die mense om die pasiënt as vir die pasiënt self.

“Ek kry veral die versorgers jammer. Self het ek geleer om nie sterk te probeer wees nie. As ek siek voel, voel ek siek en ek deel dit met Edward. Moenie jou mense in die donker hou nie, hulle wil weet wat aangaan,” is sy raad.

Hy is dankbaar teenoor almal wat al donasies gegee het en projekte geloods het om te help met die mediese onkostes.

Vir Franz is musiek steeds sy lewensbron. Foto: Gerda Bruinette
Vir Franz is musiek steeds sy lewensbron. Foto: Gerda Bruinette

“Dis vir my humbling hoe mense net uit hul pad gaan om te help. Op 10 April is daar ‘n koorfees by NG Gemeente Driehoek waar verskeie van my kore gaan optree. Ek kry op 7 April my maandelikse chemoterapie, maar op 10 April gaan ek ‘n duet sing,” sê hy beslis.

Dan het hy ook ‘n spesiale projek wat hy besig is om te reël. Hy gaan ‘n musiek video opneem met sy sewe kore, musiek vriende en ander vriende by die Etienne Rousseau Teater (ERT) in Sasolburg. Die ERT is vir hom baie spesiaal, want dis waar hy sy eerste optrede gehad het in graad ses.

Die video wil hy dan vir mense gee wat hoop en motivering nodig het. Franz sê die belangrikste wat mense moet besef van enige persoon wat deur ‘n krisis gaan of ‘n terminale siekte het, is dat daardie persoon nog dieselfde mens is.

“Vir my is dit ‘n hoogtepunt as mense kom kuier en drukkies uitdeel. Daardie kontak, die lag en die gemaklik kuier is die beste terapie denkbaar.”

Skandeer die QR-kode hieronder as jy graag ‘n bydrae wil maak vir Franz.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button