Eskom voorspel geen beurtkrag dié winter
Eskom se dieselverbruik het ook aansienlik afgeneem onder meer weens verbeterde instandhoudingsdissipline.
Dit wil lyk asof Suid-Afrikaners hierdie winter dalk gespaar sal wees van kraglose beurtkrag-ure.
Eskom het by ’n mediakonferensie vandag gesê hy betree die winterseisoen met ’n veerkragtige kragstelsel, en voorspel ’n wintertydperk van volgehoue energiestabiliteit van 1 April tot 31 Augustus.
“Met die Generasieherstelplan wat stewig in daaglikse bedrywighede geïntegreer is, het Eskom verder as korttermynherstel beweeg na ’n fase van stabiliteit en volgehoue energiesekerheid, wat verseker dat huise, besighede en nywerhede deur die piek-wintermaande van krag voorsien sal bly,” het Eskom in sy verklaring gesê.
Eskom-groep hoof uitvoerende beampte, Dan Marokane, het bygevoeg dat die kragvoorsiener nou ’n stabiele platform het om “van te opereer en te groei”.
“Dit stel ons in staat om hernubare energiebronne te integreer soos uiteengesit in die Geïntegreerde Hulpbronplan vir 2025, om toekomstige energiesekerheid te handhaaf,” het Marokane gesê.
Eskom het ook bekendgemaak dat sy dieselverbruik met sowat R26,9 miljard afgeneem het, en skryf dit toe aan verbeterde instandhoudingsdissipline en projeklewering.
Die herstel van ’n konsekwente basislas-elektrisiteitsvoorsiening het Eskom ook in staat gestel om nywerhede in nood te ondersteun, veral die ferrochroombedryf, en om ’n betekenisvolle rol te speel om werksverliese te voorkom, is gesê.
Volgens Eskom het sy Energiebeskikbaarheidsfaktor (EAF) met sowat 10,8% verbeter, terwyl onbeplande verliese verminder het met sowat 7,1GW. Beplande instandhouding het toegeneem en gemiddeld 5,4 GW beloop. “Saam het hierdie verbeterings gelei tot ’n tydperk van, vanaf [Woensdag], 341 opeenvolgende dae sonder beurtkrag,” het Eskom gesê.
Eskom het verder aangedui dat hy nou saamwerk met die Departement van Elektrisiteit en Energie (DEE) en ander relevante rolspelers om die uitskakeling van lasvermindering te versnel. Lasvermindering word deur Eskom toegepas om infrastruktuur teen oorlading en skade te beskerm waar daar onwettige aansluitings is.



