Braai en gesels saam met WeCare Saterdag
WeCare hou 'n dorpsvergadering en bring-en-braai Saterdag vanaf 14:00 by die NG Parys Suid-perseel.
Vir meer as ‘n dekade is die vrywilliger organisasie WeCare ‘n trotse instelling in Parys. Die organisasie het sy ontstaan te danke gehad aan ‘n omgee groep tussen bure wat bekommernisse gehad het oor hul eie veiligheid en munisipale dienslewering en graag beter skakeling met die polisie en nooddienste wou hê. Na die aanvanklilke sukses van die groep, het WeCare vinnig gegroei tot ‘n dorpswye organisasie wat formeel geregistreer is as ‘n Artikel-21 nie-wins organisasie.
WeCare is ook ingelyf. en word erken deur die SAPD. Die groep vervul sedert sy stigting ook ‘n belangrike rol in die Parys Gemeenskap Polisiëring Forum (GPF), en as eerste kontak in enige noodsituasie.
As vrywilliger organisasie het dit ‘n instelling geword wat deur inwoners vir inwoners ‘n gerespekteerde teenwoordigheid is in die beskerming van gemeenskapsbelange.
WeCare word beman en bedryf deur ‘n klein span toegewyde vrywillige mans en dames wat in en om Parys woon. Lede stel hul talente en hulp gratis beskikbaar vir mede-Parysenaars in nood.
Ongelukkig het die organisasie oor die jare ook vrywilligers verloor wat verhuis, afgetree of oorlede is. Daarom is daar altyd gewillige hande nodig wat graag met toewyding ‘n verskil in die gemeenskap wil maak.
Braai en gesels saam
Kom kuier saam Saterdag 23 Mei by ‘n gesellige braai by die NG Suid-perseel vanaf 14:00 wanneer saam gesels sal word oor die toekoms van WeCare. Dit is ‘n geleentheid om mense te ontmoet, idees uit te ruil en saam planne te maak. As jy nie kan help met patrollies nie, is daar ook vele ander maniere waar jy van hulp kan wees by WeCare.
Almal is welkom. Kom gee jou insette.
Pap en sous en vure sal voorsien word. Bring net jou eie vleis en drinkgoed. Gebruik asseblief die Rubinstraat-ingang.
WhatsApp-groepe
Van die veranderinge is die vrywilliger diens se noodgroepe wat voortaan hoofsaaklik op WhatsApp beskikbaar sal wees sodat meer mense toegang tot die diens sal hê en kommunikasie meer effektief bestuur kan word.
Die WeCare Noodgroep sal gebruik word vir die aanmeld van
* Ongelukke
* Misdaadverwante sake
* Mediese noodgevalle
* Ander dringende situasies waar hulp benodig word.
Noodgroep WhatsApp-skakel – https://chat.whatsapp.com/JbYHxBL5TvMKHHJb6lKVUa?mlu=0&s=cl&p=a
Diensleweringsprobleme
Alle water-, krag- en munisipale kwessies sal op die We Care Krag & Water groep gedeel word en nie op die noodgroep nie. Mense se samewerking word gevra om die groepe netjies en effektief te hou sodat noodsituasies vinnig raakgesien en hanteer kan word.
We Care Krag & Water WhatsApp Groep:
https://chat.whatsapp.com/Bx5U0h8MxP3EYHFXvjI2A0?mlu=0&s=cl&p=a
Indien jy onseker is of iets geplaas mag word, stuur die boodskap eers privaat aan een van die admins van die onderskeie groepe.
Hou asseblief in gedagte dat We Care geen magte het by SAPD, die munisipaliteit of brandweer nie. Die vrywilliger groep help op eie koste waar hulle kan en binne die perke van die wet.
Baie dankie vir elke persoon wat steeds ondersteun, help en deel vorm van We Care.
Navrae
As jy navrae het oor WeCare skakel Wynand of Dorette by 071 554 7966 of 082 629 1553.



