Local newsNews

Die wonderwêreld van ligene

Ligene kan op meer as 22 maniere voortplant, wat verseker dat dit onder enige omstandigheid kan vermeerder en so duisende jare oorleef.

Onder ons voete en teen bome, rotse en geboue groei hulle stilletjies en maak ‘n groot verskil en indruk op die omgewing se gesondheid.


Ligene is daardie grys, groen, geel of oranje plat groeiseltjies wat orals om ons is.


Rudi van der Walt het sy kennis oor die verstommende wonderwêreld van ligene gedeel by verlede week se Koepel Bewarea-byeenkoms waar hy vertel het hoe die fungi of swamme van die donker onderwêreld met die alge van die lig saamwerk.


Rudi het verduidelik dat ligene gevorm word deurdat ‘n fungus of swam se spore êrens land, dan ‘n alg soek, dit omvou en saam ‘n lewenslange verhouding vorm. Saam met die twee kry ons soms ook sianobakterieë, gewone bakterieë en selfs gisselle. Alles saam gee elke ligeen ‘n unieke voorkoms en eienskap.


Daar is drie basiese voorkomste:


* Die wat styf teen die oppervlak groei, word korsvormiges (Engels: crustose) genoem;
* Die wat soos klein rosette teen die oppervlakke groei, word blaarvormiges genoem (Engels: foliose)
* Dié wat lang stingels het en van takke af hang, is die oumansbaard of bossievormige ligene (Engels: fruticose).


Daar is ‘n paar wonders in ligene opgesluit.


Vinnige feite oor ligene wat jy dalk nie geweet het nie


* Hulle is van die enigste organismes wat drie koninkryke van lewende organismes in een onafhanklike, selfonderhoudende organisme saamvat: fungi, alge en bakterieë;
* Hulle skei oor die duisend wateronoplosbare chemikalieë af wat dit beskerm, maar wat diere, mense en plante ook vir voedsel, medisyne en baie ander industriële nut kan gebruik;
* Ligene kan met hierdie chemikalieë besluit watter ander plante naby hulle kan groei. Dit maak ook onherbergsame oppervlakke, soos lawaklip en woestyne, geskik vir gewone plantegroei.
* Ligene kan op meer as 22 maniere voortplant, wat verseker dat dit onder enige omstandigheid kan vermeerder en so duisende jare oorleef.


Anders as wat baie mense dink, maak ligene nie bome dood nie. Dit groei net makliker op ouer bome en dié wat onder stres verkeer of besig is om dood te gaan.
Geniet en bewaar die oulike goedjies!

Onder ons voete en teen bome, rotse en geboue groei ligene stilletjies en maak 'n groot verskil en indruk op die omgewing se gesondheid. Foto: Verskaf
Onder ons voete en teen bome, rotse en geboue groei ligene stilletjies en maak ‘n groot verskil en indruk op die omgewing se gesondheid. Foto: Verskaf


Mense is welkom om Rudi by 082 458 2624 te skakel vir meer inligting oor ligene.


Oor die skrywer:


Rudi het as prosesingenieur by Sasol begin, waarna hy afdelingsbestuurder by Sentrachem was.
Hy doseer later ook produksie- en tegnologiebestuur by Unisa waar hy verder in die rigtings studeer het.
By die WNNR kry Rudi blootstelling aan ‘n wye verskeidenheid van tegnologieë, onder andere ook om hoë-tegnologie maatskappye te begin en te ontwikkel. Dit het hom in staat gestel om later by die NWU as Direkteur: Kommersialisasie en Innovasie-ondersteuning aan te sluit.


Tydens vele staptogte het hy telkens ligene opgemerk en daaroor begin nalees.


Ongelukkig is daar nie ‘n ligenoloog in Suid Afrika nie, maar kon hy by ‘n navorser by die Universiteit van die Noorde, prof Dirk Wessels, kers opsteek.


Dié het hom aan ‘n paar boeke en artikels bekendgestel wat hom nog meer nuuskierig gemaak het.
Na Rudi se aftrede, 13 jaar gelede, was daar uiteindelik tyd om in diepte na ligene te kyk.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button