Slaggate nou so vasgevat
Materiaal vir die herstel van die slaggate sal plaaslik vervaardig word.
Sestig mense sal oor die volgende 12 maande deur die diensverskaffer Safeti (South African Foundation For Empowerment, Traininig & Innovation) opgelei word vir die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit se Padherstel- en Onderhoudsprogram. Die program sal mense met die nodige vaardighede toerus om slaggate op die regte manier te herstel. Dit is Maandag tydens die bekendstelling van Operation Fix My Road gesê. Die program sal in al die dorpe binne die Ngwathe-grense (Parys, Vredefort, Heilbron, Koppies en Edenville) geïmplementeer word.
In haar boodskap het die Uitvoerende Burgemeester, Victoria de Beer-Mthombeni, gesê die toestand van paaie in Ngwathe veroorsaak dat mense self begin om slaggate toe te maak, terwyl die munisipaliteit die verantwoordelikheid daarvoor moet dra.
Sy het gesê gebrek aan kennis en vaardigheid veroorsaak ook dat slaggate keer op keer weer herstel moet word, en is dit nodig dat werknemers toegerus sal word met die nodige kennis vir behoorlike herstelwerk.
Hoewel die projekkoste nie bekendgemaak is nie, is gesê dat tenderprosedures gevolg is.
Tobs Molefe van Safeti het verduidelik dat die diensverskaffer slegs met die teoretiese en praktiese opleiding van werknemers in die program gemoeid sal wees, maar dat die werk uiteindelik hande arbeid sal vereis van hulle wat die opleiding met sukses voltooi het en die werk sal doen.

Materiaal vir die herstel van die slaggate sal plaaslik vervaardig word om te verseker dat daar nie tekort aan materiaal sal wees nie, het hy gesê.
Hierdie program beteken vinniger herstel van slaggate, veiliger en meer betroubare paaie, en verbeterde toegang vir inwoners en besighede. Dit bemagtig ook werkers met waardevolle vaardighede en skep langtermyn-werksgeleenthede binne die munisipaliteit, het hy bygevoeg.
Die munisipale bestuurder, dr. F.P Mothamaha, het in sy boodskap werknemers wat tot die program toegelaat word, gemaan dat geen luiheid, alkoholmisbruk, of arrogansie tydens die opleiding geduld sal word nie.



