Mishandeling van bejaardes: Moenie die tekens miskyk nie
Mishandeling van ouer mense is 'n ernstige, maar dikwels versteekte probleem in gemeenskappe wêreldwyd.

Omdat ouer persone dikwels afhanklik is van ander vir fisiese sorg, emosionele ondersteuning of finansiële bestuur, maak dit hulle meer kwesbaar vir mishandeling. Hierdie mishandeling kan in verskeie vorme voorkom en word dikwels gepleeg deur persone wat die slagoffer ken en vertrou, soos familielede, versorgers of personeel by ouetehuise.
Tipes mishandeling van ouer mense:
Fisiese mishandeling
Dit behels enige vorm van fisiese geweld soos slaan, stoot, skud, brand of die verkeerde gebruik van medikasie. Dit kan ook insluit dat ‘n ouer persoon vasgebind of onnodig ingeperk word.
Emosionele of sielkundige mishandeling
Hierdie tipe mishandeling sluit dreige-mente, uitskel, vernedering, intimidasie of isolasie van familie en vriende in. Dit kan diep emosionele skade veroorsaak en lei tot depressie, angs en ‘n verlies aan selfwaarde.
Finansiële mishandeling
Dit gebeur wanneer iemand ‘n ouer persoon se geld, eiendom of bates onwettig of sonder toestemming gebruik. Voorbeelde sluit in die steel van geld, die manipulasie van bankrekeninge of om ‘n ouer persoon te dwing om dokumente te teken.
Verwaarlosing
Verwaarlosing is wanneer ‘n versorger nie basiese behoeftes soos kos, water, higiëne, mediese sorg, medikasie of veilige behuising voorsien nie. Dit kan doelbewus of weens onkunde plaasvind.
Seksuele mishandeling
Alhoewel dit minder bespreek word, kom seksuele mishandeling ook by ouer mense voor. Dit behels enige ongewenste seksuele kontak of gedrag sonder toestemming.
Hoe om mishandeling by ouer mense raak te sien
Die tekens van mishandeling is nie altyd ooglopend nie, maar daar is waarskuwingstekens waarop jy moet let.
• Fisiese tekens: Onverklaarbare kneusplekke, blou kolle, brandmerke, snye, gebreekte bene of gereelde beserings.
• Gedragsveranderinge: Onttrekking, angs, vreesagtige gedrag, depressie of skielike persoonlikheidsveranderinge.
• Finansiële tekens: Onverwagte veranderinge in bankrekeninge, onbetaalde rekeninge of die verdwyning van besittings.
• Leefomstandighede: Swak higiëne, vuil klere, ‘n gebrek aan kos of ‘n onveilige leefomgewing.
• Interaksie met versorgers: Die ouer persoon lyk bang of stil in die teenwoordigheid van ‘n spesifieke persoon, of die versorger weier om die ouer persoon alleen te laat praat.
Mishandeling van ouer mense is onaanvaarbaar en vereis aandag en optrede. Deur bewus te wees van die verskillende tipes mishandeling en die tekens daarvan, kan familie, vriende en gemeenskapslede help om vroeg in te gryp en ouer mense se waardigheid, veiligheid en welstand te beskerm. Indien mishandeling vermoed word, is dit belangrik om dit aan relevante owerhede of ondersteuningsdienste te rapporteer.
(Inligting in die artikel is verskaf deur Engo Vrystaat as deel van die Tooi Turkoois-veldtog.



