Local newsNews

Hekmotor-diefstal: Polisie maak groot deurbraak

Jou hek en omheining is van die kritieke veiligheidsmaatreëls om toegang tot jou perseel te beheer.

Hekmotor-diefstal word toenemend ’n probleem met misdadigers wat woongebiede en besighede teiken.

Die polisie het egter ‘n groot deurbraak vanoggend, Maandag 1 Junie) in die Rustenburg-omgewing gemaak waar agt vermoedelik gesteelde hekmotors op beslag gelê is.

Adjudant-offisier Ofentse Mokgadi sê die polisie het inligting ontvang oor ’n wit BMW wat na bewering by hekmotordiefstalle in die Rustenburg-omgewing betrokke was. Die voertuig is deur Blitspatrollie-lede opgespoor waarna die bestuurder van die voertuig probeer vlug het.

Die polisie het egter daarin kon slaag om hom voor te keer en is die 34-jarige man gearresteer op klagte van die besit van vermoedelik gesteelde eiendom.

Met die arrestasie het die polisie agt hekmotors met ’n beraamde waarde van R80 000 teruggevind. Daar word vermoed dat die hekmotors kort ná middernag gesteel is. ’n Gereedskapstuk wat na bewering gebruik is om die motors te verwyder, is ook gevind, en is beslag gelê op die BMW nadat vasgestel is dat dit vals nommerplate het

Die polisie doen ’n beroep op gemeenskapslede wat onlangs slagoffers van hekmotordiefstal geword het, om te help met die identifisering van die teruggevonde eiendom.

Die verdagte sal na verwagting binnekort in die Rustenburg-landdroshof verskyn.

Charnel Hattingh, Groephoof van Bemarking en Kommunikasie by Fidelity ADT, sê ‘n florerende mark vir hekmotoronderdele dryf hierdie misdaad aan.

“Gesteelde hekmotors word dikwels uitmekaar gehaal, met komponente soos batterye en ratkaste wat individueel verkoop word, of as volledige eenhede aan niksvermoedende huiseienaars herverkoop word,” verduidelik sy.

’n Kommerwekkende taktiek wat ook deur misdadigers gebruik word is om die hekmotor se outomatiese funksie te deaktiveer om maklike toegang tot eiendomme te verkry.

Hoe om jou hekmotor en eiendom te beskerm:


• Maak seker jou hekmotor is te alle tye binne ’n geslote staalomhulsel of -raamwerk beveilig. Onbeskermde motors—veral dié naby palissade-tipe hekke—is maklike teikens
• Installeer 180-grade perimeterstrale om beweging naby jou hek te monitor
• Installeer anti-lig-hakies en sweis ’n plat staaf aan die hekrak om geforseerde oplig te voorkom
• Kombineer meganiese beskerming met elektroniese oplossings wat waarskuwings stuur wanneer daar daarmee gepeuter word

Hattingh beklemtoon dat jou elektriese hek as ’n kritieke eerste verdedigingslinie moet dien.

“Aktiveer vroeë waarskuwingstelsels soos tuinstrale of elektriese heinings, en maak seker dit is aan gewapende reaksiedienste gekoppel. Ons almal moet ’n rol speel om misdaad te verminder deur dit moeiliker vir misdadigers te maak om te werk,” sluit sy af.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button