Local newsNews

Kinderbeskerming begin lank voor ‘n hofsaak

'n Samelewing wat sy kinders beskerm, beskerm uiteindelik sy eie toekoms.

Wanneer ons oor kinderbeskerming praat, moet ons verder kyk as die hofsaal of die maatskaplike werker se kantoor. Die werklike werk begin lank voordat ‘n krisis daar uitkom. Dit begin in huise, skole, kerke en gemeenskappe waar volwassenes bereid is om raak te sien wanneer ‘n kind swaarkry.


“Die werklikheid is dat Suid-Afrika met ‘n ernstige kinderbeskermingskrisis sit,” sê Suzette Oosthuizen, hoof van sentrums en nasionale strukture by Solidariteit Helpende Hand.


Volgens die SAPD se kwartaal-misdaadstatistiek is 285 kinders tussen Oktober en Desember 2023 vermoor, terwyl 2 707 kinders poging tot moord, aanranding of ernstige liggaamlike leed oorleef het. Hierdie syfers verteenwoordig slegs aangemelde gevalle, terwyl die werklike omvang van geweld teen kinders waarskynlik veel groter is, waarsku UNICEF.


Dit weerspieël ook in Stats SA se syfers wat daarop dui dat kinders 43,1% van Suid-Afrika se arm bevolking uitmaak. “Agter elke statistiek is daar ‘n kind met ‘n naam, ‘n storie en ‘n toekoms,” sê Oosthuizen. “Wanneer ons van geweld, armoede of trauma praat, praat ons van kinders wat elke dag probeer funksioneer terwyl hulle onseker, bang of honger is.”


Sy sê trauma by kinders manifesteer nie altyd op ooglopende maniere nie. “Die kind wat stil raak in die klas, die tiener wat agressief optree, of die kleuter wat honger by die skool aankom, vertel dikwels ‘n verhaal wat verder strek as wat ons met die eerste oogopslag sien. Die vraag wat baie van hierdie kinders eintlik vra, is eenvoudig: Is ek veilig?

Oosthuizen beklemtoon dat die grootste beskerming wat ‘n kind kan hê, dikwels ‘n veilige en betrokke volwassene is.


“Iemand wat luister, tyd maak en vir daardie kind wys dat hy of sy waarde het.”
Terwyl Kinderbeskermingsweek die afgelope week van 29 Mei tot 5 Junie gevier is, meen Oosthuizen dat kinderbeskerming nie net die verantwoordelikheid van die staat kan wees nie. “Gemeenskappe moet saam verantwoordelikheid aanvaar vir hul kinders.”sê sy.


“Kinderbeskerming gaan nie net daaroor om kinders uit gevaar te red nie,” sê Oosthuizen. “Dit gaan ook daaroor om ruimtes te skep waar hulle kan groei, leer en genees. Kinders wat emosionele ondersteuning ontvang, voldoende voeding kry en toegang het tot gehalte-vroeë ontwikkeling, het ‘n beter kans om akademies, emosioneel en sosiaal te floreer.”


Oosthuizen sê ook ‘n samelewing wat sy kinders beskerm, beskerm uiteindelik sy eie toekoms. “Sterk gemeenskappe word gebou wanneer gewone mense verantwoordelikheid neem vir die volgende geslag.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button