Local newsNews

Dakar-styl motorren-aksie: So lyk die roetes

Vernuf, spoed en spanwerk die naweek in Parys getoets

ie INGCO Parys 400 wat dié naweek – 19 en 20 Junie, in Parys gehou word, sal eweneens spoed as konsentrasie, meganiese insig en spanwerk van deelnemers vereis met vinnige plaaspaaie wat met meer tegniese gedeeltes in en om die Vaalrivier-gebied kombineer word.


SA Rally-Raid se uitvoerende hoof, Archie Rutherford, beskryf dit as Dakar-styl wedrenne waar deelnemers ‘n balans moet vind tussen volspoed jaag, meganiese versigtigheid en strategie. Die naweek se afskop van die 2026 Suid-Afrikaanse Rally-Raid-kampioenskap (SARRK) beloof om beslis een van die mees uitdagende veldrenne op die motorsportkalender te wees.


Dit is die agtste keer dat Parys gasheer is vir die twee dae kampioenskap, en het deelnemers die terrein al in uiteenlopende toestande aangepak – van droë, stowwerige roetes tot nat en uitdagende weer.


Die byna 450 km hoë intensiteit roete sal deelnemers oor twee provinsies neem. Hoewel die grootste deel van die roete nader aan Parys in die Vrystaat geleë is, sal gedeeltes langs die oewers van die Vaalrivier spanne ook na die Noordwes-provinsie neem.

Voormalige veelvuldige kampioen Giniel de Villiers sal saam met Dennis Murphy die #TeamHilux Rally Raid-aanslag in die DKR Hilux T1+ EVO lei nadat hulle in 2025 op die Parys-podium geëindig het.
Voormalige veelvuldige kampioen Giniel de Villiers sal saam met Dennis Murphy die #TeamHilux Rally Raid-aanslag in die DKR Hilux T1+ EVO lei nadat hulle in 2025 op die Parys-podium geëindig het. Foto: Verskaf


Volgens wedrendirekteur Evan Hutchison is daar vir die Parys-byeenkoms van die beste gedeeltes van verlede jaar se dubbelbyeenkoms saamgevoeg in ‘n roete wat ‘n bietjie van alles bied. “Daar is vinnige, vloeiende gedeeltes, tegniese draaie, waterkruisings, modderige stukke en oop grasvelde. Dit is die soort roete wat deelnemers van begin tot einde gefokus hou en behoort uitstekende wedrenne deur die hele naweek te lewer,” meen Hutchison.


Met die naweek se aksie sal alle oë op Parys wees om te sien of die jongelinge, eerste keer-kombinasies of gesoute veterane die eerste hou gaan slaan in wat ‘n onvergeetlike seisoen beloof te wees.

Roetes

  • Die wedrenaksie begin Vrydag met die kwalifiserende wedren wat om 09:30 naby die wedrenhoofkwartier en die Aangewese Dienspark (DSP) by Stonehenge River Lodge sal wegspring. Die kwalifiserende uitslae sal die wegspringvolgorde vir Fase Een bepaal, wat om 12:30 begin.


Deelnemers sal eers ‘n 14 km-skakelgedeelte via die R59 deur Parys na die Parys-vliegveld aflê, waar die wedrengedeelte begin. Die openingsfase sal oop veld, tegniese gedeeltes, skerp draaie en waterkruisings insluit voordat dit weer by die vliegveld eindig en terugkeer na Stonehenge.

  • Saterdag se aksie begin met ‘n seremoniële vertrek vanaf Stonehenge voordat deelnemers om 08:30 na die beginpunt van Fase Twee, net anderkant die N1-brug, vertrek.


Die 200km-roete neem spanne deur ‘n mengsel van modderige gedeeltes, oop grasvelde en die tipiese Vrystaatse mielieland-terrein. Die roete kronkel in die rigting van die Weiveld-graansilo’s en die Boerevereniging-saal voordat dit die R82 bereik en via Dover-treinstasie terugkeer na die eindpunt naby die N1.


Na ‘n verpligte diensbreek van 30 minute by die DSP sal deelnemers dieselfde fase vir ‘n tweede keer aanpak, wat die verhoog skep vir ‘n intense stryd om die algehele eerbewyse. “Hierdie fases bied ‘n uitstekende kombinasie van vinnige en tegniese uitdagings,” voeg Hutchison by. “Bestuurders en navigators sal deurgaans skerp moet bly, want klein foute kan hulle vinnig duur te staan kom.”

Die INGCO Parys 400 beloof om ’n onvergeetlike openingshoofstuk van die 2026 SA Rally-Raid kampioenskapseisoen te wees. Foto: Verskaf
Die INGCO Parys 400 beloof om ’n onvergeetlike openingshoofstuk van die 2026 SA Rally-Raid kampioenskapseisoen te wees. Foto: Verskaf

Gratis toegang


Toegang by Stonehenge en aangewese uitkykpunte rondom Parys is gratis, met kosstalletjies en regstreekse kommentaar wat vir die hele gesin ‘n dag vol vermaak beloof. Motorsportentoesiaste kan ook regstreekse opsporing en uitslae via die RallySafe-toepassing (gratis beskikbaar op iStore en Google Play) volg en op hoogte bly van nuus, foto’s en video’s op die Suid-Afrikaanse Rally-Raidkampioenskap se sosiale media kanale.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button