Local newsNews

Staat wil borg in Viljoen-saak teenstaan

Die bedrog is ontdek nadat die Stad Johannesburg 'n oudit van sy vaste bates gedoen en onreëlmatighede opgemerk het.

Die borgaansoek van Peet Viljoen wat tereg staan op altesaam 400 aanklagte van beweerde bedrog ter waarde van R27 miljoen, korrupsie, diefstal, die gebruik van vervalste dokumente en vervalsing, sal eers op 26 Junie aangehoor word. Die staat is van voorneme om sy vrylating op borgtog teen te staan, sê Lumka Mahanjana, streekwoordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag in Gauteng.

Die 57-jarige Viljoen het vandag vlugtig in die Gespesialiseerde Handelsmisdaadhof in Pretoria verskyn.

Volgens Mahanjana word beweer dat Viljoen en vyf ander verdagtes, wat nog nie voor die hof verskyn het nie, tussen Januarie en Maart 2010 op bedrieglike wyse 46 eiendomme wat aan die Stad Johannesburg (COJ) behoort het, aan niksvermoedende individue en/of maatskappye verkoop het sonder die kennis van die COJ.

Om die eiendomme oor te dra, het die beskuldigde na bewering dokumente vervals, insluitend koopkontrakte, verkoopooreenkomste en resolusies van die Stad Johannesburg en Joburg Property Company (Edms.) Bpk. volmagte vir die oordrag van eiendomme, beëdigde verklarings en aansoeke ingevolge artikel 68(1) van die regulasies kragtens die Aktewet 47 van 1937. Verder word beweer dat die beskuldigde ’n adjunkregistrateur wat by die Departement van Grondsake in diens was, omgekoop het om die transportaktes van die eiendomme te registreer.

Die bedrog is ontdek nadat die COJ ’n oudit van sy vaste bates gedoen en onreëlmatighede opgemerk het. Die stad het daarna by die Hooggeregshof in Johannesburg aansoek gedoen om die eiendomme terug te kry. Die hof het die aansoek toegestaan en die eiendomme is aan die COJ terugbesorg.

Peet Viljoen. Foto: Verskaf/Pretoria Rekord argief
Peet Viljoen. Foto: Verskaf/Pretoria Rekord argief

Ná ’n strafregtelike ondersoek deur die polisie is Viljoen in 2010 in hegtenis geneem en het hy in die Gespesialiseerde Handelsmisdaadhof in Pretoria verskyn. Die saak sou egter van voor af voor ’n ander landdros in die hof begin. Kort voordat die saak weer op die hofrol geplaas is, het Viljoen die land in Mei 2025 verlaat. Hy is op 16 Junie 2026 weer in hegtenis geneem by die OR Tambo Internasionale Lughawe nadat hy uit die Verenigde State van Amerika gedeporteer is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button