Vrystaat: Optogte vreedsaam, maar gevalle van plundering gerapporteer
Mangaung en Botshabelo is as die grootste brandpunte uitgesonder maar is polisielede geloof vir hul vinnige en doeltreffende optrede in dié gebiede.
Agt protesoptogte is Dinsdag 30 Junie, regoor die Vrystaat gehou as deel van die landwye protesoptrede teen onwettige immigrante. Die optogte het vreedsaam verloop, maar gevalle van plundering is Dinsdagnag in die dorpe Petrus Steyn, Vredefort, Tumahole en Maokeng gerapporteer, waar verskeie verdagtes in hegtenis geneem is.
So het die Vrystaatse polisiekommissaris, luitenant-generaal Thabang Solomon Lesia vandag (Woensdag 1 Julie) tydens ‘n waarderingsparade by Bobbiespark gesê toe hy hulde gebring het aan lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), private veiligheidsmaatskappye en verskeie regeringsdepartemente vir hul rol in die suksesvolle beveiliging van die provinsie tydens die verwagte landwye betogings.
Lesia het in sy toespraak gesê die President het tydens ‘n vergadering met alle provinsiale kommissarisse, die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag en Staatsveiligheid duidelik opdrag gegee dat daar geen ontwrigting of stilstand op 30 Junie mag wees nie en dat die dag normaal moes verloop.
“Hoewel baie mense paniekerig was, het ons die publiek gerusgestel en dag en nag die strate beveilig. Ek wil elke beampte en lid bedank vir hul toewyding en harde werk,” het Lesia gesê.
Luitenant-generaal Lesia het ook erkenning gegee aan die bydraes van Mangaung Verkeer, Mangaung Gemeenskapsveiligheid, SBV, ITR, Tracker, die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW), die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), die Departement van Binnelandse Sake, die Rooikruis, Eskom en die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (COGTA).
Die Adjunk-Provinsiale Kommissaris vir Sigbare Polisiëring, generaal-majoor Arthur Peter Adams het by luitenant-generaal Lesia se boodskap aangesluit toe hy gesê het deeglike beplanning en voorbereiding het daartoe gelei dat polisielede en ander rolspelers gereed was om op enige moontlike voorval te reageer.

Mangaung en Botshabelo is as die grootste brandpunte uitgesonder maar is polisielede geloof vir hul vinnige en doeltreffende optrede in dié gebiede.
Lesia het polisielede aangemoedig om pro-aktief teen misdaad op te tree toe hy gesê het: “Ons moenie wag totdat gemeenskappe vra waarom misdaad nie bekamp word nie. Ons moet self optree. Stasiebevelvoerders dra nou die verantwoordelikheid om te verseker dat inwoners nie sulke klagtes hoef te rig nie,” het hy gesê.



