Rolstoelresies en boepenspret sorg vir basaar lekkerte
Dit was 'n dag waarop mense en organisasies hande gevat het om na ander uit te reik en 'n verskil in die gemeenskap te maak.
Die Hervormde Kerk se lentebasaar het Saterdag ‘n pretdag met ‘n verskil gebied. Benewens heerlike eetgoed en kunstige handwerk is daar vanjaar ook ‘n boepenskompetisie en rolstoelresies aangebied, wat vir hope pret gesorg het.
Uiteindelik was dit die gemeente se ds. Juan wat die boepenskompetisie gewen het, terwyl Rotary-president Sandra Uys en ER24 ‘n wegholoorwinning in die rolstoelresies behaal het.



Daar is ook na Sophia Modise uitgereik met ‘n rolstoel wat deur Amot aan haar geskenk is om sodoende in haar behoefte te voorsien.

Die dag het afgeskop met ‘n staproete vir mense wat met kanker worstel, of deur die siekte geraak word. Terug by die kerkterrein het die geur van braaivleis en roosterkoek swaar in die lug gehang, terwyl die kerk se kleurvolle trekkertreintjie gereed gestaan het om besoekers op pretritte te neem. Agter die mikrofoon was Reinhardt Venter, wat basaargangers met sy musiek bederf het. Maar die dag het oor meer as net basaarlekkernye en pret gegaan.


Verskeie diensverskaffers het die oggend hande gevat met Rotary Parys vir die klub se jaarlikse gesondheidsdag, wat as deel van die basaar ten bate van die gemeenskap aangebied is. Daar was geleentheid om bloed te skenk by die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens se mobiele skenkerskliniek, terwyl Epilepsie SA se Vrystaat/Noordwes-sentrum en FAST bewusmaking oor epilepsie en beroertes bevorder het.

Schwims Local Choice Pharmacy het onder meer gratis bloedsuikertoetse aangebied, terwyl ER24 Parys mense touwys gemaak het in kunsmatige asemhalingstegnieke.
Rotary Parys het danksy ‘n skenking van die Stathroy Rotary-klub in Kanada brille beskikbaar gestel aan mense wat andersins nie ‘n bril sou kon bekostig nie.













