Parys-gemeenskap verenig om brandslagoffers te help
Ondersteuning stroom van oral af in ná die verwoestende brand wat Sondag, 5 Julie, vier meenthuise by die Heldersig-woonstelle in Noorderstraat verswelg het.
Uit die as van een van die dorp se grootste tragedies, het iets besonders na vore gekom, ‘n gemeenskap wat weier om sy mense alleen te laat.
Ná die verwoestende brand wat Sondag, 5 Julie, vier meenthuise by die Heldersig-woonstelle in Noorderstraat verswelg het en die lewe van ‘n bejaarde vrou geëis het, stroom die ondersteuning vanuit alle oorde steeds in vir die families wat bykans alles verloor het.
Volgens Fanie Kruger van Security Master het die brand vinnig versprei. Vier meenthuise is geraak, waarvan een heeltemal uitgebrand het. Die bejaarde vrou was in haar woning vasgekeer en het tragies in die brand omgekom. Die oorsaak van die brand word steeds ondersoek.
Ngwathe Brandweer en Nooddienste, ambulansdienste, SAPD, plaaslike sekuriteitsmaatskappye, verkeersbeamptes en talle ander nooddienste het vinnig op die toneel gereageer. Vlamme het hoog die lug ingeslaan, gasbottels het ontplof en dik rookwolke het oor die omgewing gehang voordat die brand later die middag onder beheer gebring is.
Maar dit was nie net die nooddienste wat die verskil gemaak het nie.
Inwoners, vrywilligers, besighede en organisasies het sonder huiwering hande gevat om hulp te verleen. Mense het water, kos, klere en ander noodsaaklikhede aangedra, terwyl verskeie organisasies en individue hul tyd, voertuie en toerusting beskikbaar gestel het om die situasie te help bestuur.
We Care Buurtwag het ná die tragedie hul dank uitgespreek teenoor elke persoon en organisasie wat op die toneel gehelp het.
“Vandag het ons weer gesien dat die mense van Parys kan saamstaan in tye van nood,” het die organisasie gesê.
Hul het onder meer hul waardering uitgespreek teenoor Parys Brandweer, We Care-patrolleerders, SAPD, plaaslike verkeer, EMS, Johnny’s Towing, Parys Sekuriteit, Security Master, die Ngwathe Munisipaliteit, Trade-Avail, Shogun, die VVA en talle ander individue wat hul hulp aangebied het.
Omdat die behoefte groot is, is ‘n WhatsApp-groep ook gestig om die brandslagoffers te ondersteun en hulp te koördineer.
Die gesinne benodig tans onder meer vroueklere in medium tot groot groottes, mansklere in groot tot ekstra groot, asook kos, toiletware, beddegoed, beddens, matrasse en ander huishoudelike noodsaaklikhede.
Volgens We Care Buurtwag, wat reeds nege jaar lank die gemeenskap tydens noodsituasies ondersteun, word alle donateurs versoek om die verwysing “Brandslagoffers Donasie” te gebruik wanneer finansiële bydraes gemaak word. Dit sal help om alle skenkings korrek aan die slagoffers toe te wys.
Enigiemand wat graag wil help of meer inligting verlang, kan Dorette Nel by 071 554 7966 kontak.
Hoewel een familie nou ‘n geliefde moet groet en verskeie ander weer van vooraf moet begin, wys die inwoners van Parys dat hoop dikwels in mense se goedhartigheid gevind word.
In ‘n tyd van groot verlies het die gemeenskap weer bewys dat Parys se grootste krag nie in geboue lê nie, maar in die mense wat bereid is om vir mekaar op te staan wanneer dit die nodigste is.



