Winter Warmer-projek bring hoop aan Epilepsiesentrum
Vanjaar het sewe skole met groot entoesiasme deelgeneem.
Wat as ‘n eenvoudige idee begin het om gedurende die wintermaande iets betekenisvol te doen, het oor die afgelope ses jaar in ‘n projek gegroei wat elke winter warmte, hoop en waardigheid aan mense in nood bring.
Chané Grimbeek, ‘n sweminstruktrise van Parys, gebruik die koue seisoen, wanneer swemlesse stiller raak, om haar jaarlikse Winter Warmer-projek aan te pak. Sedert 2020 mobiliseer sy plaaslike kleuterskole om saam ‘n verskil in die gemeenskap te maak.
Vanjaar het sewe skole met groot entoesiasme deelgeneem, naamlik Bumble Tots Montessori, An-éne Ontwikkelingsentrum, ABC Naskool, Immergroen Kleuters van Vredefort, Blikoortjies, Parys Christelike Skool en El Sali Kleuterskool.
Ouers, personeel en leerders het nie-bederfbare voedsel, sokkies en toiletware geskenk om die winter vir minderbevoorregtes ‘n bietjie warmer te maak. Die projek het skenkings ter waarde van R14 840 opgelewer, ‘n bewys dat klein dade van omgee saam ‘n groot verskil kan maak.
Al die skenkings is aan die Epilepsiesentrum oorhandig, waar dit mense sal bereik wat dit die nodigste het.
Volgens Grimbeek is sy elke jaar opnuut dankbaar vir die bereidwilligheid waarmee die kleuterskole en hul gemeenskappe inspring om te help.
“Dit wys net weer dat wanneer ‘n gemeenskap saamstaan, kan ons hoop deel, harte verwarm en ‘n werklike verskil in ander se lewens maak,” sê sy.
Die Winter Warmer-projek herinner ons daaraan dat ‘n enkele daad van goedhartigheid iemand se dag en soms selfs hul lewe kan verander.



