Stormskade aan kragnetwerk vandag herstel
Die skade by Koppies is Maandagaand deur 'n storm veroorsaak.
Eskom het by navraag bevestig dat herstelwerk aan die kragnetwerk vandag, Woensdag 29 Oktober, gedoen word nadat ‘n storm Maandagaand die Vrystaatse dorp, Koppies, sonder krag gelaat het. Kragvoorsiening na die Serfontein-substasie is ook geraak.
Eskom het ook gesê dat daar reeds kragvoorsiening is vir verbruikers op die RV, RK en RM kraglyne, asook vir verbruikers wat kragtoevoer van die Heuningspruit landelike netwerk kry. Verbruikers wie se kragtoevoer herstel is, is egter gevra om krag spaarsamig te gebruik om oorlading van die netwerk te voorkom, totdat alle kragvoorsiening in Koppies herstel is.

Eskom het sy verskoning aangebied vir kliënte vir die ongerief en daarop gewys dat alle kragpunte as lewendig beskou moet word, terwyl daar gewerk word om die kragtoevoer vir die dorp te herstel.
Volgens die DA se Carina Serfontein is die aanduiding dat herstelwerk teen vanaand na verwagting voltooi sal wees.




