Vrystaat-dorpe nie langer deur Eskom lasvermindering geraak nie
Lasvermindering is as 'n tydelike beskermingsmaatreël ingestel in gebiede waar plaaslike netwerke oorlaai is weens onwettige aansluitings, elektrisiteitsdiefstal, peuter met meters en 'n toename in elektrisiteitsvraag wat die ontwerpvermoë van die netwerk oorskry.
Die Vrystaat is een van vyf provinsies waar Eskom-kliënte nie langer deur lasvermindering geraak word nie. Eskom het Woensdag bekendgemaak dat meer as 1,1 miljoen Eskom-kliënte reeds van lasverminderingskedules verwyder is. Dit beteken dat die kragvoorsiener reeds 65,17% van sy doelwit bereik het om lasvermindering landwyd uit te skakel.
Eskom het vroeër lasvermindering ingestel om oorlaaide elektrisiteitsnetwerke te beskerm, en skade aan infrastruktuur te voorkom.
Tot dusver is 545 toevoerlyne (feeders) landwyd uit die lasverminderingskedules verwyder, met die meeste oorblywende lasverminderingsgebiede wat steeds in Gauteng en KwaZulu-Natal voorkom.
Met die beëindiging van lasvermindering in Mpumalanga sluit dié provinsie nou by die Wes-Kaap, Noord-Kaap, Vrystaat en Noordwes aan waar geen lasvermindering meer toegepas word nie.
Eskom sê hy is op koers om lasvermindering teen Oktober 2026 in sewe provinsies uit te skakel, met die mikpunt om dit teen Maart 2027 landwyd te beëindig.
Hoe verskil beurtkrag en lasvermindering
Die publiek verwar dikwels beurtkrag en lasvermindering.
Die land se kragstelsel het reeds meer as 413 opeenvolgende dae sonder beurtkrag funksioneer. Eskom skryf dit toe aan die sukses van sy Opwekkingsherstelplan, verbeterde opwekkingsprestasie, groter bedryfsbetroubaarheid en minder onbeplande kragonderbrekings.
Lasvermindering is egter as ‘n tydelike beskermingsmaatreël ingestel in gebiede waar plaaslike netwerke oorlaai is weens onwettige aansluitings, elektrisiteitsdiefstal, peuter met meters en ‘n toename in elektrisiteitsvraag wat die ontwerpvermoë van die netwerk oorskry.
Belegging in infrastruktuur
Eskom sê hy spreek die onderliggende oorsake van lasvermindering aan deur beleggings in netwerk-infrastruktuur, die installering van slimmeters, die integrasie van verspreide energiebronne, die uitbreiding van Gratis Basiese Elektrisiteit, inkomstebeskermingsinisiatiewe en noue samewerking met munisipaliteite en gemeenskappe.
Hierdie ingrypings verminder netwerkoorlading, beskerm infrastruktuur teen skade en verbeter die betroubaarheid van elektrisiteitsvoorsiening, terwyl die behoefte aan ladingsvermindering geleidelik afneem.
“Die uitfasering van lasvermindering vorm deel van Eskom se breër verbintenis om elektrisiteitsdienslewering regoor Suid-Afrika te verbeter,” sê Junaid Munshi, Eskom se Groepuitvoerende Bestuurder vir Verspreiding.
Hy sê hoewel groot vordering gemaak is met die stabilisering van die kragstelsel, ervaar sommige gemeenskappe steeds die impak van lasvermindering.
“Dat meer as een miljoen kliënte nie meer deur lasvermindering geraak word nie, wys dat die program tasbare resultate lewer. Die werk is egter nog nie afgehandel nie. Die oorblywende gebiede, veral in Gauteng en KwaZulu-Natal, vereis volgehoue beleggings, verdere opgraderings van infrastruktuur, die ontplooiing van gevorderde tegnologie en voortgesette samewerking met gemeenskappe en belanghebbendes om die oorsake van netwerkoorlading aan te spreek,” sê Munshi.
Gemeenskappe se rol bly belangrik
Eskom beklemtoon dat die sukses van die program nie net van infrastruktuurbeleggings afhang nie, maar ook van samewerking tussen Eskom, munisipaliteite, staatsdepartemente, tradisionele leiers, wetstoepassingsagentskappe en gemeenskappe.
Die kragvoorsiener doen ‘n beroep op inwoners om onwettige aansluitings, elektrisiteitsdiefstal, peuter met meters en beskadigde infrastruktuur aan te meld, slimmeterinstallasies te ondersteun en veilige toegang aan Eskom se gemagtigde tegniese spanne te verleen.
Rapporteer hier
Voorvalle kan by die Eskom Misdaadlyn aangemeld word by 0800 112 722 of via WhatsApp by 081 333 3323.
Eskom sê hy bly verbind tot die lewering van ‘n veilige, betroubare en volhoubare elektrisiteitsvoorsiening sodat die voordele van die verbeterde kragstelsel geleidelik deur alle Suid-Afrikaners ervaar kan word.



