Gedenkdiens vir Jaco Vrydag gehou
Jaco Opperman was aan menige Parysenaar bekend met sy afleweringsdiens wat hy in die dorp bedryf het.
Die gedenkdiens van ‘n jong man van Parys wat Donderdag 16 Julie skiellik gesterf het nadat hy gesukkel het om asem te kry, en kort daarna gesterf het, sal Vrydagoggend om 10:00 vanuit die AGS Sion-gemeente in Parys gehou word.
Die 37-jarige Jaco Opperman het die Zippy afleweringsdiens sedert 2025 in die dorp bedryf en het hy met sy bromponie van pakkies tot kruideniersware en wegneemetes vir mense in die dorp afgelewer. Hy het vroeër ook vir Parys Sekuriteit gewerk.
Jaco se vriendin, Annari Burger, het aan Gazette gesê dat Jaco aan outonomiese neuropatie gely het en onlangs ook met longontsteking gehospitaliseer was.
Sy het hom beskryf as iemand wat altyd graag ander wou help.

Jaco se skiellike dood het as ‘n groot skok vir die familie gekom en volg net twee weke nadat sy pa, Koos Opperman, wat ook in Parys gevestig is, ‘n dubbele hartomleiding en hartklepvervangingsoperasie ondergaan het. Hy was met die skryf van die berig steeds in die hospitaal.
Jaco word naas Annari en haar dogtertjie Armandé ook deur sy ouers, broers, susters en familie oorleef.
Ons opregte medelye aan elkeen wat hom liefgehad het en met net die mooiste herinneringe sal onthou.




