Langs die paaie sneeu dit
Met baie motoriste wat vandag na die langnaweek op die pad sal wees, en wydverspreide reën wat gerapporteer is, is dit raadsaam om seker te maak jy hou by spoedgrense en veilige volgafstande.
Sneeu is reeds langs verskeie Vrystaatse paaie gerapporteer en is motoriste gewaarsku om baie versigtig te bestuur.
Sipho Towa, Vrystaatse voorsitter van die Road Incident Management System (RIMS) het vroeër gesê roetes wat deur sneeu geraak word, is
- die N3 by Harrismith
- die N6 tussen Reddersburg en Smithfield
- die N1 by Trompsburg
- Nat en glibberige padtoestande is ook op die R702 by Dewetsdorp gerapporteer.
Minstens drie bergpasse in die Oos-Kaap is reeds vroeg Maandagoggend 10 Augustus, gesluit as gevolg van swaar sneeu. Dit sluit in die Penhoek-pas (N6 tussen Komani en James Calata), die Barkley-pas (R58 tussen Elliot en Barkley-Oos), en die Boesmanshoek-pas (tussen Sterkstroom en Molteno). Swaar sneeu-neerslae het ook by Matatiele en Cederville geval.
‘n Oranje vlka 6-waarskuwing vir sneeu is deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Weerdiens (SANW) uitgereik vir dele van die Oos-Kaap, en is vroeër ook gewaarsku vir sneeu in die Vrystaat, Mpumalanga en KwaZulu Natal.

Hou die volgende in gedagte wanneer jy op nat en glibberige paaie sou bestuur:
- Hou jou ligte aan vir beter sigbaarheid
- Handhaaf veilige volgafstande en maak volgafstande groter wanneer paaie nat en glibberig is soos wat nou die geval is.
- Wanneer jy op die pad gaan, maak seker jou brandstoftenk is vol.
- Stel nie-noodsaaklike reise uit,
- Maak vooraf seker watter roetes onbegaanbaar is en watter alternatiewe roetes gevolg kan word.
- Maak seker jy laat weet jou naasbestaandes wanneer jy by ‘n bestemming verwag kan word.

Parys het sedert 02:00 vanoggend tot en met 12:00 reeds 1,5mm reën gehad en reën dit steeds sag met tussenposes.



