Dié banktoepassings haak steeds vir voorafbetaalde kragkoepons
Die Ngwathe munisipaliteit het verlengde kantoorure ingestel wat sal geld totdat alle probleme met voorafbetaalde elektrisiteitsaankope uitgesorteer is.
Verskeie gebruikers in die Ngwathe munisipale gebied (Parys, Vredefort, Heilbron, Edenville en Koppies) rapporteer steeds probleme met voorafbetaalde elektrisiteitsaankope op Absa en FNB se aanlyn banktoepassings. Gazette het die kwessie onder die munisipale bestuur sowel as die diensverskaffer, MLB Smart Solution se aandag gebring.
Die voorlopige aanduiding is dat Absa na verwagting weer vanaf 4 September Ngwathe-verbruikers sal toelaat om voorafbetaalde kragkoepons op sy aanlyn banktoepassing te koop, terwyl ook gekyk word na die aanlyn herleidingsprobleem op die FNB-toepassing.
Voorafbetaalde krag kan tans wel op ander aanlyn banktoepassings soos Capitec en Tyme Bank gekoop word, asook by die munisipale kantore en eksterne verkooppunte soos by vulstasies wat voorheen die diens gelewer het, het Bungani Radebe, Ngwathe se bestuurder: Inkomste, sowel as die diensverskaffer gesê.
Radebe het ook bevestig dat mense wat probleme met voorafbetaalde elektritsiteitsaankope ondervind, steeds gebruik kan maak van die munisipaliteit se verlengde ure wat ook oor naweke geld.
Chaos het op 7 Augustus ontstaan toe verbruikers skielik nie op hul aanlyn bank platforms of by eksterne verkooppunte voorafbetaalde elektrisiteit kon koop nie, nadat die munisipaliteit migreer het van een diensverskaffer na ‘n ander vir die verkoop van voorafbetaalde elektrisiteit.
Radebe het verduidelik dat dit normale praktyk is dat munisipaliteite voorafbetaalde kragverkope aan ‘n eksterne diensverskaffer uitkontrakteer. Sodra die kontraktermyn met ‘n diensverskaffer verstryk, word die munisipale diensverskaffer-riglyne gevolg om weer ‘n diensverskaffer aan te stel, het hy gesê, wat ook by Ngwathe die geval was.
Radebe het die verwarring wat aanvanklik ontstaan het oor die vervanging van kragmeters verduidelik deur te sê dat probleme ondervind is met sommige meters wat tydens die migrasieproses nie op die stelsel geregistreer het nie.
Hy sê mense wat probleme met hul meters ondervind het, hoef nie hul meters te vervang nie. Volgens Radebe was die opsie vir gratis meter vervanging na die migrasie slegs gebied aan diegene wat dringend krag moes koop maar wie se meternommers nie op die stelsel geregistreer was nie. Hy het ook gesê dat dit slegs as ‘n noodmaatreël voorgestel is om ‘n oplossing te bied vir krisisgevalle.
Radebe het egter die versekering gegee dat die verlengde kantoorure by munisipale kantore sal geld totdat alle probleme met die migrasieproses uitgesorteer is.
Ook die diensverskaffer het aangedui dat op hul verkopestelsel gesien kan word dat verkope by eksterne verkooppunte begin normaliseer en dat aankope op aanlyn banktoepassings met die uitsondering van Absa en FNB, deurgaan.
Mense wat steeds probleme ondervind met hul meters word aangeraai om met die meternommer na die munisipale kantore te gaan.
Die munisipale kantore is op weeksdae daagliks oop tot 18:00 en oor naweke van 09:00-16:00.



