Local newsNews

Robotte ook in vandale en diewe se visier

Die koste vir die herstel van die verkeersligte plaas 'n bykomende las op munisipaliteite.

Stukkende verkeersligte het ‘n landwye probleem geword grotendeels ook weens vandalisme en diefstal wat toenemend ‘n las op munisipaliteite plaas.

In Julie vanjaar het sakeman Jevon Dyer van Kariega ongeveer vyf stukkende verkeersligte op ’n sleepwa gelaai en dit voor die Nelson Mandela Bay-munisipaliteit se kliëntedienskantoor afgelaai.Ongeveer ’n week later het die verkeersligte steeds buite die gebou gelê.

In reaksie op Dyer se protes het Yolisa Pali-Jongilanga, die metro se politieke hoof vir paaie en vervoer, aan ’n raadskomitee gesê dat die stad nie meer die koste kan regverdig om aanhoudend dieselfde verkeersligte te herstel nie omdat diewe die kabels binne enkele weke stroop. Op die M17, het sy gesê, het diewe die kabels sewe weke ná herstelwerk gesteel.

“Ons kan dit nie bekostig om dieselfde verkeersligte elke drie maande voortdurend te herstel weens herhaalde dade van vandalisme nie,” het sy gesê. “Dit voel amper asof ons die diewe elke keer beloon wanneer ons herstelwerk doen.”

Maar Nelson Mandela-baai is nie die enigste stad wat met stukkende robotte sukkel nie. In Johannesburg het die Johannesburgse Paaie-agentskap (JRA) in Julie gesê dat toerusting by meer as 300 van sy verkeersligte gesteel of gevandaliseer is. Teen daardie tyd was die verkeersligte by die kruising van Chadwicklaan en 5th Street in Wynberg reeds langer as ’n jaar buite werking, In Polokwane het inwoners in Julie berig dat verkeersligte by 21 kruisings buite werking was.

Sommige munisipaliteite het opgehou om verkeersligte by die kruisings wat die meeste geteiken word, te herstel. Ekurhuleni het ongeveer R120 miljoen aan herstelwerk in ’n enkele boekjaar bestee voordat verkeersligte by sommige hoërisiko-kruisings met stoptekens vervang is. Die stad het gesê dat sommige van dié stoptekens moontlik permanent kan bly.

In Centurion het die stad die verkeersligte by die kruising van Botha- en Hoffmeyerstraat buite werking gestel en die kruising na ’n drierigtingstop afgegradeer.

In Gauteng bestuur die provinsiale Departement van Paaie en Vervoer slegs 547 van die provinsie se meer as 4 500 verkeersligbeheerde kruisings. Die departement het in Julie kontrakteurs aangestel vir ’n herstel- en opknappingsprogram wat na verwagting 36 maande sal duur,

Die Automobiel Assosiasie van Suid-Afrika (AA) het nou ‘n beroep op munisipaliteite gedoen om ’n lys van stukkende verkeersligte en straatligte te publiseer met datums vir herstel.

Hoe gemaak by stukkende verkeersligte?

  • Verkeersligte wat nie werk nie moet as ’n vierrigtingstop hanteer word.
  • Gehoorsaam stoptekens waar ’n munisipaliteit verkeersligte daarmee vervang het, en wees bedag daarop dat sommige bestuurders dit dalk nie sal doen nie.
  • Hou motorvensters toe en waardevolle items buite sig wanneer jy by stopstrate en kruisings met verkeersligte wat buite werking is, stilhou. Inwoners meld dat rooftogte waar motorruite stukkend geslaan word, hier meer gereeld voorkom.
  • Verminder spoed op paaie sonder straatbeligting en wees veral bedag op voetgangers.
  • Indien jy stap, dra ligkleurige of weerkaatsende klere, neem ’n flits saam of gebruik jou selfoon se lig. Stap teen die aankomende verkeer se rigting waar daar geen sypaadjie is nie.
  • Stap waar moontlik saam met ander, veral vroegoggend en ná donker.
  • Rapporteer verdagte aktiwiteite rondom verkeersligte en ander infrastruktuur.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button