Kaggelkuier met klank in Parys
Taal leef wanneer ons dit praat, lees, sing en geniet, en dit is waaroor die gesellige kuieraand gaan.
As die Augustus-koue buite byt, is daar min wat kom by goeie geselskap, bekende Afrikaanse woorde, en ’n lied wat almal saam kan sing. Dít is presies wat Kaggelkuier met Klank op 26 Augustus by O’s restaurant beloof. Die ATKV-tak Vredefort Koepel nooi oud en jonk na ’n ongekunstelde kuieraand waar Afrikaans in al sy warmte en musikaliteit die ereplek kry.
Gedigte, volksliedjies, musiek, samesang en sommer net lekker saamkuier vorm die hart van die program. Een van die dryfkragte agter die aand is Erna Rademan, organiseerder en ’n bekende gesig in die gemeenskap. Vir Rademan gaan die geleentheid oor veel meer as bloot ’n program wat afgehandel moet word.
“Ons wil hê mense moet inkom, ontspan en sommer dadelik voel hulle kuier tussen vriende. Afrikaans het mos ’n besondere manier om mense bymekaar te bring – deur ’n mooi gedig, ’n bekende wysie, ’n storie of daardie lied waarvan almal skielik die woorde onthou,” sê sy.
Dié keer hoef besoekers nie net te kom luister nie. Hulle word aangemoedig om hul gunsteling gedig te nomineer – of sommer self op te staan en dit voor te lees. Geen ervaring op die verhoog is nodig nie; die idee is juis om die woorde wat mense liefhet, met mekaar te deel.
Samesang sal ook ’n belangrike deel van die aand wees. Van die ou bekendes wat herinneringe wakker maak tot liedjies wat eenvoudig lekker op die tong lê – die mikpunt is nie ’n formele konsert nie, maar ’n egte Afrikaanse kuier waar die gehoor deel van die klank word. “Ons taal leef wanneer ons dit praat, lees, sing en geniet,” sê Rademan. “En as ’n mens dit boonop saam met ander kan doen, met iets lekkers op die tafel en genoeg tyd vir gesels, is dit mos ’n kuier soos dit hoort.”

Kaggelkuier met Klank vind op 26 Augustus om 18:00 plaas by O’s Restaurant in De Villiersstraat, Parys. Bespreking is noodsaaklik. Skakel Wynand Serfontein by 083 452 5526 vir meer besonderhede. Gaste is verantwoordelik vir hul eie ete en drankies.
Bring jou gunsteling gedig, maak die stem ’n bietjie warm en kom skuif nader. Afrikaans sorg vir die woorde, die musiek vir die klank – en Erna en haar span sorg dat daar behoorlik gekuier word.



