Munisipale werknemers voor die hof oor beweerde kragbedrog
Die Nasionale Vervolgingsgesag sê hy sal voortgaan om met wetstoepassingsagentskappe saam te werk om diegene wat vir misdrywe soos hierdie verantwoordelik is, aanspreeklik te hou.
Sewe werknemers van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit het in die Vanderbijlpark-landdroshof verskyn op aanklagte van bedrog, diefstal van sowat R150 000, geldwassery en peuter met noodsaaklike infrastruktuur.
Die beskuldigdes is David Seneekal (31), Caroline Smangele Maduna (39), Kenneth Zongezile Mahobe (35), Hlawutelo Baloyi (29), Pule Meshack Masilo (36), Andries Bafana Maduna (48) en Sibusiso Patrick Tshabalala (46).
Volgens die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het die beweerde misdrywe tussen Februarie 2024 en Junie 2026 plaasgevind.
Daar word beweer dat die munisipaliteit gedurende dié tydperk die elektrisiteit van ondernemings en inwoners wie se rekeninge agterstallig was, ontkoppel het.
Die beskuldigdes sou daarna die betrokke sake-eienaars en inwoners genader het met ’n aanbod om hul elektrisiteit teen betaling weer aan te sluit.
Nadat hulle na bewering geld van die klaers ontvang het, sou hulle die elektrisiteit onwettig aansluit, en munisipale rekords manipuleer om te wys dat ’n kleiner bedrag op die betrokke rekeninge verskuldig is.
Die oorspronklike uitstaande bedrag sou egter in die daaropvolgende maande weer op die elektrisiteitsrekening verskyn het, terwyl die elektrisiteit weens die onwettige aansluiting steeds aan die kliënt beskikbaar was.
Die klaers het die beweerde onreëlmatighede by die munisipaliteit aangemeld. Ná ’n interne ondersoek het die munisipaliteit die saak by die polisie aangemeld.
Die sewe beskuldigdes is op 21 Augustus 2026 in hegtenis geneem.
Die saak is tot 31 Augustus uitgestel vir ’n formele borgaansoek. Al sewe beskuldigdes bly in aanhouding.

Die NVG sê hy bly verbind tot vervolging vir korrupsie, bedrog en misdade wat noodsaaklike openbare infrastruktuur en dienslewering ondermyn.
“Sulke misdrywe ondermyn openbare vertroue en benadeel gemeenskappe wat op munisipale dienste staatmaak,” het Lumka Mahanjana, NVG-streekswoordvoerder vir die Gauteng-afdeling in Pretoria, gesê.
Die NVG sal volgens Mahanjana voortgaan om met wetstoepassingsagentskappe saam te werk om diegene wat vir sulke misdrywe verantwoordelik is, aanspreeklik te hou.



