Historiese kanonkettingskoot verbind SA op Erfenisdag
Lede van die publiek word uitgenooi om hierdie besondere oomblik by die Voortrekkermonument te beleef
Van Simonstad en Kaapstad in die suide, tot by Lephalale) in Limpopo, gaan kanonskote op Erfenisdag, 24 September, weerklink wanneer die Suid-Afrikaanse Kanonniersvereniging (CAOSA) ’n historiese landwye kanonkettingskoot doen ter viering van die beroemde Hollandse kanonoproepstelsel wat in die 17de eeu aan die Kaap gebruik is om boodskappe oor groot afstande te kommunikeer.
Altesaam 31 kanonne gaan op vasgestelde tye op verskillende plekke reg oor die land afgevuur word –
Die projek boots die oorspronklike Hollandse kanonoproepstelsel (Dutch Call-Up Gun Signal System) na, ’n baie doeltreffende kommunikasiestelsel wat deur die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC)
ontwikkel is om waarskuwings, bevele en belangrike boodskappe vinnig tussen afgeleë poste oor te dra.
Die stelsel het sy oorsprong in die middel van die 17de eeu gehad en is teen ongeveer 1680 formeel uitgebrei tot ’n georganiseerde netwerk van seinposte.
Gedurende die 18de eeu het die netwerk gegroei tot meer as 40 stasies wat die Kaap met nedersettings in die binneland verbind het. Verskillende getalle kanonskote het verskillende boodskappe oorgedra, terwyl rook- en klankseine gebruik is om kommunikasie oor groot afstande moontlik te maak.
Op sy hoogtepunt rondom 1800 was die oproepstelsel een van die mees gevorderde vorme van langafstandkommunikasie in Suider-Afrika. Vanuit Kaapstad is seine na plekke soos Swellendam, Worcester, Tulbagh, Piketberg, Citrusdal en ander strategiese gebiede oorgedra. Die stelsel het ’n belangrike rol gespeel in die waarskuwing van nedersettings teen moontlike bedreigings, die oproep van hulp en die verspreiding van amptelike kennisgewings – in ’n tyd lank voordat telegraaflyne
en moderne kommunikasietegnologie beskikbaar was.
Volgens die Suid-Afrikaanse Kanonniersvereniging word die kanonkettingskoot op Erfenisdag nie net aangebied om dié merkwaardige deel van Suid-Afrika se geskiedenis te herdenk nie, maar ook om die land se ryk erfenis van historiese voorlaaikanonne te bewaar en aan die publiek bekend te stel.
Volgens Dawid Brand, bedryfshoof: bemarking en kommunikasie van die Kultuurtuiste, vorm die kanontradisie reeds meer as drie eeue deel van Suid-Afrika se geskiedenis. “Kanonne het ’n belangrike rol gespeel in die verdediging van die Kaap, die beskerming van handelsroetes, die ontwikkeling van militêre strategieë en die verloop van talle historiese gebeurtenisse.
“Bekende Suid-Afrikaanse kanonne, soos Grietjie en Susanna wat ’n tuiste by die Voortrekkermonument gevind het, is ’n besondere deel van die land se militêre en kulturele erfenis.

in 2025. (Foto: Charlotte Drotsky)
Die Kultuurtuiste is trots om deel van hierdie unieke nasionale erfenisgebeurtenis te wees.
Om 13:00 op 24 September, tydens die Toeka tot Toekoms Erfensidagfees, sal ’n kanonskoot vanaf die terrein van die Voortrekkermonument afgevuur word wanneer die Kanonniersvereniging ’n skoot
met die replika van kanon Grietjie gaan vuur.”
Die afvuur van Grietjie se replika vorm deel van die nasionale ketting van 31 kanonskote wat die historiese Hollandse oproepstelsel herdenk en die belang van erfenisbewaring beklemtoon.

staan, laat so nou en dan ook van haar hoor. (Foto: Charlotte Drotsky)
Lede van die publiek word uitgenooi om hierdie besondere oomblik by die Voortrekkermonument te beleef en Erfenisdag saam te vier deur ’n unieke stuk Suid- Afrikaanse geskiedenis in aksie te ervaar.
Die 2026-viering val ook saam met die viering van CAOSA se 21ste bestaansjaar. Die vereniging werk sedert 2005 daaraan om historiese kanonne op te spoor, te dokumenteer, te bewaar en, waar toepaslik, dit vir opvoedkundige en erfenisdoeleindes te demonstreer. Die organisasie speel ’n leidende rol in die bewaring van Suid-Afrika se voorlaaikanongeskiedenis en die oordrag van hierdie kennis aan toekomstige geslagte.
Die landwye kettingaksie sal op verskeie ikoniese erfenisterreine plaasvind, insluitend die Kasteel die Goeie Hoop, die FAK se Udolpho-Rivierplaas buite Parys, Bloedrivier, die Oorlogsmuseum in Bloemfontein, Long Tom-pas, Waterval Boven en talle ander geskiedkundige plekke wat met Suid-Afrika se militêre en kultuurerfenis verbind word.
Koop jou kaartjies vir die Toeka tot Toekoms Erfenisdagfees en beleef die historiese kanonkettingskoot by die Voortrekkermonument: vtm.org.za/erfenisfees



