Twee beseer na nog ʼn motorfietsongeluk op R500
Albei motorfietsryers is per ambulans van die toneel vervoer.

Nooddienste het vroeër vanmiddag twee motorfietsryers te hulp gesnel na n motorfietsongeluk skaars 200m vanwaar twee Parysenaars, Jassie Jansen van Vuuren en Liezel Fouché, op 13 Oktober in ʼn tragiese motorfietsongeluk op dieselfde pad gesterf het.
Vanmiddag se ongeluk was rondom 14:30 naby die ingang van die Umfula-vakansieoord. Geen ander voertuie was in die botsing betrokke nie.
Een van die motorfietsryers het met die impak van die botsing in ʼn spruit langs die pad beland. Beide die motorfietsryers het nood mediese behandeling op die toneel ontvang en is per ambulans na nabygeleë hospitale vervoer.
Hulp is op die toneel verleen deur ER24 Parys en IMR, Prinsloo Recovery, Jan Louis Venter en Johnnys Paneelkloppers, asook die Ngwathe Brandweer en Nooddiens, en Security Master.
- Die roudiens vir Jassie en Liezel is vamiddag vanuit die AGS Sion gemeente gehou. Liezel was onderwyseres by die Dome Combined School in Parys, terwyl Jassie by Shogun gewerk het. Jassie en Liezel het gesterf toe die motorfiets waarmee hulle gery het, ʼn karavaan by die ingang na die Waterfall Estate langs die R500 getref het.



