Parys vier 150 jaar met kleurvolle straatparade
Die feesvieringe vind plaas op Erfenisdag, 24 September, gevolg deur 'n naweek van gholf op die dorp se twee spog gholfbane.
Verbeel jou die klank van ‘n blaasorkes wat weerklink op ‘n weeksoggend in Parys se hoofstraat.
Honderde voete en perdehoewe, veteraanmotors en motorfietse, marsjerende trompoppies, en restauranttafels op sypaadjies waar mense saamdrom om dié skouspel te sien.
Maak seker jy is op Erfenisdag, 24 September, wat ook ‘n openbare vakansiedag is,, in Parys se hoofstraat wanneer dié Vrystaatse dorp met kleur en klank sy 150ste bestaansjaar vier. Deelnemers aan die parade kom om 08:00 die oggend tussen Wes- en Uniestraat byeen.
Die parade, met hoofsaaklik Parysenaars en perderuiters aan die voorpunt, gevolg deur die veteraanmotors en -motorfietse, begin om 10:00 in die hoofstraat beweeg tot by die kruising van Breë- en Father Balinkstraat.

Hier sal die parade omstreeks 11:00 stilstaan, terwyl erkenning gegee word aan mense wat ‘n besondere bydrae tot die dorp, en vir sy mense gelewer het.

Daar wag ook ‘n verrassingsoptrede wat jy nie moet misloop nie.
Die parade sal daarna verder beweeg in Breëstraat en dan via Philipstraat na die oop terrein langs die brandweer, waar die parade omstreeks 14:00 ontbind.
Op die terrein oorkant Spar in die hoofstraat sal kultuuraktiwiteite aangebied word vir die feesvieringe, en stalletjies kan op verskeie punte in die dorp besigtig word.
Restaurante en sakelui word genooi om, met wat jy ook al het om te bied, dit op die sypaadjies deel te maak van die karnaval atmosfeer.
Vir sportmanne en -vroue wat in die verlede hul Springbokkleure verwerf het, of tans met Protea-kleure spog, is daar ‘n uitnodiging om aan die straatparade deel te neem. Onthou dat verkeer vir die duur van die straatparade van die hoofstraat af na alternatiewe roetes deur die dorp herlei sal word.
Die feestelikheid word op 25 en 26 September voortgesit met gholfdae op beide Parys se spoggholfbane.



