Noordwes-boer se aanvallers weer vandag voor die hof
Donovan Marx is vandeesweek uit die hospitaal ontslaan, maar wag daar nog 'n lang pad na herstel.
Die mans wat tereg staan op die brutale aanval op die 50-jarige Donovan Marx, ‘n beesboer van Syferfontein tussen Potchefstroom en Ventersdorp, verskyn vandag weer in die Ventersdorpse landdroshof op aanklagte van huisroof, poging tot moord en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie. Hulle sal na verwagting aansoek doen om borg.
Phimdile Nomngcayi (29), Godfrey Mathipa (56), Thomas Motlhonglong (27) en Jan Maishone (53) – het op 3 November vir die eerste keer voor die hof verskyn. Die vyfde verdagte wat vroeër in hegtenis geneem is, sal as 204-getuie vir die staat getuig. Die vyf is vasgetrek ná intensiewe ondersoek- en operasionele werk, het kolonel Adéle Myburgh, woordvoerder van die polisie in Noordwes gesê.
Marx is op 28 Oktober aangeval toe gewapende mans wat klapmusse gedra het, van agter die plaashuis te voorskyn gekom en hul vuurwapens op een van die plaaswerkers gerig het wat besig was om gras te sny. Hy is met kabelbinders vasgebind en na die agterkant van die huis geneem.
Toe Marx met sy enkelkajuit Isuzu-bakkie by die huis kom, is twee van die verdagtes na hom toe en is hy in die bolyf geskiet.
Sy aanvallers het hom daarna die huis binnegesleep, sy hande en voete met kabelbinders vasgebind en is hy tydens die marteling onder meer ook met ‘n mes gesteek.
Die verdagtes het die huis deursoek en drie vuurwapens uit ’n kluis geneem voordat hulle met Marx se rooi Isuzu-bakkie van die toneel gevlug het. Die bakkie en vuurwapens is intussen gevind.
Marx is gister uit die hospitaal ontslaan nadat die koeël wat hom getref het deur sy nier beweeg het, terwyl ’n besering aan sy dikderm genoodsaak het dat ’n gedeelte daarvan chirurgies verwyder word. Hy het ook ’n messteekwond aan sy been opgedoen.
Sy ore wat tydens die aanval afgesny is, kon nie chirurgies gered word nie. Die moontlikheid van prostetiese oorrekonstruksie kan in die toekoms oorweeg word, afhangend van verdere mediese evaluering en sy herstel.
‘n Pad van geloof en herstel
Die familie het in ‘n verklaring gesê hoewel daar nog ’n lang pad van herstel voorlê, hulle glo dat dieselfde God wat Marx tot hier gedra het, hom ook verder sal dra. “Dankie aan elkeen wat saam met ons bid, hoop en glo,” het sy vrou, Louise gesê.
Die egpaar het hul opregte dank teenoor die mediese spanne van die intensiewesorgeenheid van Potchefstroom Mediclinic, ER24 se nooddienste, die gemeenskappe van Ventersdorp en Potchefstroom, asook die SAPD uitgespreek.
“Ons glo dat die Here se hand deur hierdie hele pad oor ons was. Julle het ons geestelik en fisies gedra. Julle het ons staande gehou. Ons is positief oor die toekoms en sien met geloof en verwagting uit daarna om te beleef hoe God se Naam deur alles wat gebeur het, verheerlik gaan word,” lui hul boodskap, wat ook na Psalm 150 en Efesiërs 6:12–15 verwys het.
Die egpaar en hul regsverteenwoordigers het terselfdertyd ’n beroep op die publiek gedoen om die integriteit van die ondersoek te beskerm deur nie vertroulike inligting of ongeverifieerde besonderhede op sosiale media te versprei nie.



