Vermoorde Kempton Park vroue: Polisie waarsku nadat vyfde slagoffer gevind is
Die polisie kon nog nie bevestig of 'n reeksmoordenaar vir die moorde verantwoordelik is nie.
Vroue in en om Kempton Park, veral in die Rhodesfield-gebied, is deur die polisie gewaarsku om uiters versigtig te wees nadat die liggame van vyf vroue binne sowat twee maande in dieselfde gebied gevind is.
Die halfnaakte liggaam van die jongste slagoffer is vanoggend, Maandag 14 September, in die Olifantsfontein-gebied gevind. Die ander vier slagoffers se halfnaakte liggaame is vroeëer langs die R21 in die Rhodesfield en Kempton Park gebied gekry. Die vierde liggaam is Saterdag gekry.
Die polisie sê voorlopige inligting dui op kommerwekkende ooreenkomste in die omstandighede rondom die sterftes. Die vroue se liggame is halfnaak gevind en het sigbare kneusplekke gehad.
Die polisie kon nog nie bevestig of die sterftes met ’n reeksmoordenaar verband hou nie.
Vroue in en om Kempton Park is egter deur die polisie gewaarsku om nie alleen te stap of te draf nie, veral nie in afgeleë gebiede nie. Vroue word ook aangeraai om afgesonderde plekke te vermy, waaksaam te wees en, waar moontlik, in groepe te reis of te oefen.
Die polisie het in ‘n verklaring vandag gesê die veiligheid van vroue bly ‘n prioriteit.
Die waarnemende nasionale kommissaris van die polisie, luitenant-generaal Puleng Dimpane, het intussen die Gautengse kommissaris opdrag gegee om onmiddellik ’n toegewyde multidissiplinêre taakspan saam te stel om die sake te ondersoek en vas te stel of daar enige verband tussen die voorvalle is.
Die taakspan sal speurders van gespesialiseerde eenhede, asook ander toepaslike kundiges en hulpbronne insluit. Die span sal gelei word deur die Gautengse adjunk-provinsiale kommissaris, generaal-majoor Mbuso Khumalo.
Daar is ook ‘n beroep op die publiek gedoen om met inligting wat die ondersoekspan kan help, na vore te kom. Dit sluit inwoners, motoriste, sekuriteitspersoneel en ander lede van die gemeenskap in wat moontlik verdagte aktiwiteite in Rhodesfield en omliggende gebiede waargeneem het.
Inligting kan deurgegee word aan Elvis Manyike by 082 465 7249 of anoniem deur die MySAPS-toepassing.
Wat is ‘n reeksmoordenaar?
‘n Individu wat drie of meer mense in verskillende voorvalle oor ‘n tydperk van meer as ‘n maand vermoor, word gewoonlik gedefinieer as ‘n reeksmoordenaar. Daar is dikwels ‘n sielkundige motivering agter hierdie moorde.
Meestal is daar ‘n seksuele element aan die moorde gekoppel, en is daar ook ‘n duidelike patroon wat gevolg word, of ‘n ooreenkoms wat gesien word by die slagoffers. Dit kan ouderdom, beroep, geslag, voorkoms ensovoorts insluit.
Reeksmoordenaars voer ook gewoonlik, maar nie altyd nie, die misdaad alleen uit, sonder hulp.
Bekende Suid-Afrikaanse reeksmoordenaars
Hoewel Suid-Afrika in die verlede al verskeie reeksmoordenaars gehad het, is hierdie van die bekende name
- Moses Sithole wat ook bekend was as die ABC-moordenaars was aktief tussen 1994 en 1995 en het 38 mense vermoor.
- Die sogenaamde Wemmerpan-moordenaar, Maoupa Cedric Maake het 27 mense tussen 1996 en 1997 vermoor.
- Bulelani Mabhayi was verantwoordelik vir die dood van 20 mense in die Oos-Kaap tussen 2007 en 2012.
- Sifiso Thwala was bekend as die Phoenix Strangler en het minstens 16 vroue in KwaZulu Natal vermoor.
- Gert van Rooyen en Joey Haarhoff (1988-1989) word verbind met ses slagoffers en 8 moontlike slagoffers.
- Waarskynlik een van die land se eerste reeksmoordenaars was Daisy de Melker (1923-1932) wat verantwoordelik was vir die dood van drie mense.



