2 bly in aanhouding ná wrede aanval vrou haar lewe kos
Hannetjie van Zyl is vermoor toe sy uit haar motor geklim het om 'n plaashek oop te maak.
Die twee mans wat vir die moord op die 55-jarige Hannetjie van Zyl van die plaas Doornpan in die Ottosdal-distrik in hegtenis geneem is, sal in aanhouding bly tot hul volgende hofverskyning op 15 Oktober.
Die mans het vanoggend in die landdroshof op Bloemhof verskyn.
Martin Boitumelo Mosime (28) en Moleko Sekwaage (29), albei Suid-Afrikaanse burgers) sal in aanhouding bly tot hul volgende hofskyning wanneer ‘n formele borgaansoek gehoor sal word. Hulle staan tereg op klagte van moord en roof.
Hannetjie het Maandagaand gesterf nadat sy by ‘n plaashek oorval en met ‘n ysterpyp doodgeslaan is.
Hannetjie het vir jare by Absa in Wolmaransstad gewerk en het van die werk afgekom toe sy by die plaashek gestop en uitgeklim het om dit oop te maak. Dit is hier waar sy wreed aangerand en later deur haar man Sarel in ‘n erg beseerde toestand gekry is. Sy het onderweg na die hospitaal gesterf.
TLU SA het in sy reaksie op die sinnelose moord gesê dat die plaasaanval nie ‘n geisoleerde voorval is nie, maar dat plaasaanvalle ‘n volgehoue veiligheidsprobleem in landelike gebiede is. Die organisasie sê volgens sy rekord is 26 plaasaanvalle en drie plaasmoorde in Augustus gerapporteer. Vir September was daar 17 plaasaanvalle, en in Oktober reeds sewe plaasaanvalle en een plaasmoord.
Die organisasie sê ook die groter tendens wek ernstige kommer met 32 plaasmoorde wat in 2024 aangeteken is, 23 in 2025, en die totaal vir 2026 wat op 7 Oktober reeds op 27 staan. Dit beteken dat 2026 se syfer reeds sowat 17% hoër is as die totaal vir die hele 2025, met byna drie maande van die jaar wat nog voorlê.



