Alle oë op Saterdag se myl: Meeste Elite-deelnemers nog
Die eerste atlete sal om 07:17 wegspring, en die laaste item vind plaas om 09:45.
Honderde voete en tekkies sal Saterdag 10 Oktober in Parys se hoofstraat gesien word, wanneer talle bekende atlete, maar ook oud en jonk by die wegspring sal aantree vir die dorp se gewilde straatmyl.
Die Elite-items by vanjaar se Parys Crater Street Mile spog met die meeste deelnemers nog sedert die eerste Straatmyl in Parys aangebied is. Groot name in atletiekkringe word verwag, met 21 Elite mans-inskrywings, en 14 Elite dames-inskrywings.
Hierbenewens sal Race Walkers ook die eerste keer by die straatmyl in aksie gesien word.

Die roete
Die straatmyl-roete volg ‘n afstand van 1,609 m – die presiese afstand van ‘n myl. Die roete is gesertifiseer volgens Wêreld Atletiek, Atletiek SA en Atletiek Vrystaat regulasies, wat beteken dat dit ook ‘n kwalifiserende wedloop is, en ‘n uitstekende talent-identifiseringsgeleentheid. Die eerste atlete sal Saterdagoggend om 07:15 by die Spur-ingang van die PnP-sentrum wegspring, met die laaste item wat om 09:45 sal plaasvind.
Die draaipunt van die roete is by Plum Tree Restaurant in Breëstraat. Deelnemers eindig weer by dieselfde punt waar weggespring word.

Vir jonger deelnemers (sewe tot nege jaar) is daar die halfmyl. Dié deelnemers spring ook weg in Waterstraat by die Spur-ingang van die PnP-sentrum, maar draai dan by die 400 m merk.
De straatmyl word aangebied deur Parys Rotary, in samewerking met Parys Info & Tourism, onder die vaandel van Parys Multisport.

Die Straatmyl is vir almal
Die Parys Crater Street Mile is nie net vir atlete nie. Skryf in as familie, vriendegroepe, besighede, of stap die afstand saam met die Rotariërs en vriende.
Die mikpunt vir vanjaar se straatmyl is 700 atlete, en is inskrywings van sover as Pretoria, Bloemfontein, Welkom, en selfs Hennenman gekry wat 22 atlete ingeskryf het.
Die 82-jarige Bobby de Kock van Kroonstad sal ook weer vanjaar deelneem.
Inskrywings

Aanlyn inskrywings is reeds oop, maar deelnemers kan ook inskryf by Parys Info & Tourism in Breëstraat. Deelnemers kan hul wedloopnommers reeds van Vrydag by Parys Info & Tourism tussen 10:00 en 18:00 afhaal. Daar sal ook Saterdagoggend vanaf 05:00 ‘n inskrywingspunt naby die wegspringpunt wees.

Prysgeld
Altesaam R81 000 se prysgeld kan vanjaar met die Straatmyl gewen word. Daar is ook spog medaljes vir elke deelnemer.
Die prysuitdeling word naby die wegspringpunt aan die einde van die Straatmyl gehou.
Agter die mikrofoon
Met Race Walkers wat vanjaar vir die eerste keer aan die Straatmyl deelneem, is daar ook ‘n nuwe gesig agter die kommentator mikrofoon.
Die talentvolle Antonio Farmer het Suid-Afrika vanjaar by die Wêreld Race Walking Team-kampioenskappe in Brasilië verteenwoordig, en is sy kennis en passie vir die sport ‘n welkome toevoeging tot die straatmyl. Saam met hom sal gladdebek Ockert van Schalkwyk ook agter die mikrofoon inskuif om te sorg vir hope gees om deelnemers en toeskouers deel te maak van die aksie.




