Skokkende omvang van aanlyn dobbel: So verloor Suid-Afrikaanse gesinne hul inkomste
Dobbelbedryf wen, gesinne verloor
Aanlyn dobbel in Suid-Afrika het met ‘n verstommende 390% tussen 2021 en 2025 gegroei, en die grootste faktore wat hiertoe bydra is meer toeganklikheid tot selfone en die oorweldigende reklame vir die aanlyn dobbelbedryf.
Nog meer skokkend is dat sowat R1,5 miljard in die 2024-’25-boekjaar in die totale dobbelbedryf verwed is waarvan byna driekwart aanlyn. Hoewel dié syfer herhaalde weddenskappe met dieselfde geld insluit, het dobbeloperateurs ná die uitbetaling van winste steeds R74,5 miljard in bruto dobbelinkomste oorgehou.
Die skokkende syfers oor miljarde wat jaarliks verwed word in die aanlyn dobbeldbedryf, is vandag bekendgemaak na aanleiding van navorsing wat in ‘n verslag samagevat is van Solidariteit se Navorsingsinstituut (SNI).
Volgens Theuns du Buisson, ekonomiese navorser by die SNI en opsteller van die verslag, is die bevindings ʼn ernstige waarskuwing oor die toenemende houvas wat dobbel op Suid-Afrikaners se geld kry.
“Die dobbelbedryf wen al die pad, ten koste van Suid-Afrikaanse gesinne. Dit is die werklikheid wat hierdie verslag blootlê en waarvoor ons dadelik antwoorde moet kry,” sê Du Buisson.
Die verslag verwys ook na voorlopige navorsing van die Nasionale Dobbelraad wat daarop dui dat mense toenemend roekelose lenings aangaan en selfs maatskaplike toelaes gebruik om te dobbel.
Internasionale navorsing wat in die verslag bespreek word, verbind aanlyn dobbel met ʼn twee tot vier keer groter waarskynlikheid van probleemdobbel in vergelyking met ander vorme van dobbel.
Du Buisson sê hierdie bevindings wys hoe gebruikers binne enkele sekondes op ʼn selfoon toegang tot dié soort dobbelplatforms kan kry.
“Die casino is nie meer êrens in ʼn gebou waarheen jy moet ry nie; dit is in jou sak. Jy kan enige tyd, enige plek en met enkele drukke op jou selfoon geld verwed.”
Wat dit selfs gevaarliker maak, is dat dobbel toenemend as ʼn geleentheid vir ekstra inkomste voorgehou word.
“Vir iemand wat reeds finansieel swaarkry, kan die belofte van vinnige geld besonder aanloklik wees. Maar dobbel is nie ʼn manier om inkomste te verdien nie. Dit kan juis die geld vernietig waarvan ʼn gesin afhanklik is,” waarsku Du Buisson.
Volgens Du Buisson is Solidariteit se betrokkenheid by hierdie kwessie ʼn logiese uitbreiding van sy verantwoordelikheid om werkende mense se belange te beskerm.
“Ons veg elke dag vir ons lede se werk, hul salarisse en hul bestaansveiligheid. Dit help egter min as mense hard werk om ʼn inkomste te verdien, net om te sien hoe dit deur dobbelverliese uitgewis word. Ons wil nie net beskerm wat mense verdien nie. Ons wil ook help beskerm wat hulle met daardie inkomste vir hul gesinne kan opbou.”
Solidariteit beoog om die verslag te gebruik om sterker regulering van aanlyn dobbel en dobbeladvertensies te bevorder.
Dit sluit in:
- Strenger beperkings op dobbelbemarking
- Beter toepassing van bestaande beperkings op onwettige aanlyn casino’s
- Groter beskerming van jong mense en ander kwesbare persone
Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, sê die werklike gevaar van probleemdobbel lê daarin dat die gevolge dikwels veel verder as die dobbelaar self strek.
“Wanneer geld wat vir kos, skoolgeld, huur of elektrisiteit bedoel is, weggedobbel word, is dit nie net die persoon wat die weddenskap geplaas het wat verloor nie. Dit raak ook die kinders wat sonder noodsaaklikhede moet klaarkom en die gesin wat die finansiële en emosionele skade moet probeer herstel. Dit raak huwelike, kinders, gesinsverhoudings en uiteindelik hele gemeenskappe,” sê Noëth.
Solidariteit en Solidariteit Helpende Hand meen die buitengewone groei van aanlyn dobbel noodsaak ʼn dringende hersiening van die regulering en bemarking van die bedryf. Die organisasies vra onder meer vir strenger beheer oor dobbeladvertensies, beter beskerming van kwesbare verbruikers en meer doeltreffende regulering van aanlyn dobbelplatforms.




