Local newsNews

Motorfietsongeluk eis die lewens van onderwyser en vriend

Ons opregte medelye aan die kinders, familie, vriende en kollegas wat deur hierdie hartseer geraak is.

In twee families, maar ook in die skoolgemeenskap van Parys, is daar onbeskryflike hartseer na die tragiese dood van Liezel Fouche en Jassie Jansen van Vuuren. Liezel en Jassie het gesterf na ‘n motorfietsongeluk op die Fochville-pad (R500), toe die motorfiets waarmee hulle gery het, by die ingang na Waterfall Estate, met ‘n karavaan gebots het. Beide is op die toneel oorlede. Die ongeluk het net voor 17:00 Dinsdagmiddag gebeur.

Liezel was as onderwyseres aan Dome Combined School verbonde waar sy sedert die begin van die jaar vir die Intermediêre fase skoolgehou het. Sy het voorheen onder meer ook by Schonkenville Intermediate School en AM Lembede skool gehou.

Wilna van Buren-Scheele, skoolhoof van Dome Combined School, het Woensdagoggend haar, die personeel en die beheerliggaam se opregte medelye uitgespreek teenoor Liezel se kinders en familie. “Sy was ‘n gerespekteerde en geliefde onderwyseres wie se teenwoordigheid gemis sal word. Haar kollegas sal haar onthou as ‘n mens met ‘n sagte hart wat oorgeloop het van liefde vir haar kinders,” het Van Buren-Scheele gesê.

“Liezel was altyd net haar eie mens. Nooit voorgegee of gemaak om iets/iemand te wees wat sy nie was nie. Sy was al deur baie, maar het elke keer kop omhoog daaruit gekom. Sy gaan baie gemis word,” het die skool in hul huldeblyk gesê.

Liezel Fouche. Foto: Verskaf
Liezel Fouche. Foto: Verskaf

Liezel se jarelange vriendin, Natasha Muller  het haar beskryf as ‘n ongelooflike goeie ma. Iemand vir wie haar kinders haar hele lewe en bestaan was. 

In haar huldeblyk skryf Natasha dat sy Liezel sal onthou as iemand met wie jy saam kon lag, huil, jou hart oopmaak en jou mooiste herinneringe kon deel. “Sy was ‘n vriendin wat saam met jou deur die hele lewe stap. Wat jou ondersteun in moeilike tye, en saam met jou bly was oor die mooi oomblikke. Liezel se vriendskap was kosbaar, en die herinneringe wat ons saam gemaak het sal altyd in ons harte voorleef.”

Nog ‘n vriendin, Ilse Opperman, vertel dat Liezel ‘n besondere mens was. ‘n Wonderlike ma en vriendin duidsend. Sy het ‘n hart van goud gehad, en was die tipe mens wat haar laaste sou gee om iemand anders in nood te help. 

“Haar liefde, goedhartigheid en omgee sal vir altyd in die harte van dié wat haar geken en liefgehad het, voortleef. Die wêreld het ‘n mooi mens verloor, maar haar spore van liefde sal nooit uitgewis word nie.”

“Rus sag, liewe Liezel. Dankie dat ek die voorreg gehad het om jou vriendin te kon wees. Jy sal altyd gemis en met liefde onthou word,” skryf Ilse. 

Liezel se dogter Chené het in haar boodskap die volgende gesê: “Mamma waar begin ek? Mams was my rots, my trots. Ek kon enigiets met mamma deel. Mamma was die grootste deel van my lewe. Ek wens ek kon nog eenkeer vir mamma sê hoe lief ek vir mamma is.”

“My ma was ‘n vrou vol hoop, liefde, en altyd daar vir ons almal. My ma was die mooitste vrou wat ek geken het”

“My ma het my deur die lewe gedra, en die meisie gemaak wat ek nou is. Ek’t ‘n groot deel van my verloor.”

“Mamma en oom Jassie is nou waar julle saam wou wees. Ek weet my ma is in in gees by my. Ek bly altyd lief vir mamma.” 

Liezel word naas Chené ook deur haar ander kinders, Jason en Justin Fouche, en Christopher en Kian Pretorius, asook haar suster, Marinda Hattingh, oorleef. 

Liezel se dood volg net vier dae na die dood van Paul Fouche Jr, met wie sy voorheen getroud was, en wat Vrydag 9 Oktober aan ‘n hartaanval oorlede is. Hy was drie jaar gelede in ‘n motorongeluk en het sedertdien met sy gesondheid gsukkel, veral kort voor sy dood.

Die roudiens vir Paul word Vrydag om 11:00 vanuit die NG Oos-gemeente gehou. ‘n Onbeskryflike hartseer vir hul kinders wat beide hul ouers binne vier dae verloor het.

Paul se ma, Lizzie het in ‘n roerende boodskap gesê beide Paul en Liezel sal gemis word, en dat daar onbeskryflike hartseer is in hierdie families wat in enkele dae deur soveel hartseer is.

Liezel en Paul was albei 42 jaar oud.

Jassie wat saam met Liezel gesterf het, was ‘n gebore Parysenaar wat hier grootgeword en skoolgegaan het. Ook hy was 42 jaar oud en het vir Shogun gewerk ten tyde van sy dood. Hy het vroeër vir ‘n tyd in die buiteland gewerk maar was voorheen ook jare lank by Shogun werksaam.


Jassie se skoonsus, Annemarie, het Jassie beskryf as iemand wat vriendelik was met ‘n oop hand om ander te help. “Hy was ‘n goeie pa vir sy kinders en baie erg oor sy familie. Hulle was sy alles,” het Annemarie gesê.  Sy het hom ook beskryf as iemand wat altyd besig was, lief vir motorfietsry en hengel. “Ons is dankbaar vir al sy liefde en omgee vir sy familie en hulle wat na aan hom was,” het sy gesê.

Jassie Jansen van Vuuren. Foto: Verskaf
Jassie Jansen van Vuuren. Foto: Verskaf

Jassie was vroeër jare ondervoorsitter van die voormalige Lighthouse Riders motorfietsklub, het ‘n jarelange familievriendin, Gwen Rheeder vertel. 

Jassie word oorleef deur sy kinders, Kaylee, Marnu, Pikkie en Abby-gail, suster Marie, en broers, Tommy en Hendrik.

Beide Jassie en Liezel se kinders was by ABC Naskool en het die naskool hul innige meegevoel as volg betuig. “Ons harte is stukkend, veral vir die kinders wat deur hierdie hartseer geraak word. Mag die Here elke seer hartjie toevou met Sy liefde, vertroosting en vrede. Aan elke kind wat nou vrae het, hartseer voel of sukkel om te verstaan: ons bid dat julle omring sal wees deur liefde, geduld en mense wat julle dra deur hierdie moeilike tyd. Mag julle krag vind in die Here en weet dat julle nie alleen is nie,” het Mavis Steyn namens die naskool geskryf.   

Die begrafnisreëlings was nog nie met Gazette se ter perse gaan bekend nie. 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button