Skietvoorval by Waterkloof-kroeg: Saak uitgestel
'n Formele borgaansoek sal op 20 Oktober in die hof gehoor word.
Die 45-jargie Brian Wesley Smith (45), van Lyttelton, het vandag vlugtig in die Pretoriase Landdroshof verskyn op aanklagte van moord en poging tot moord ná ’n beweerde skietvoorval by ’n kroeg in Waterkloof. Smith word daarvan beskuldig dat hy Baden Watson (54) vermoor het, en poging tot moord op nog ‘n man.
Volgens die staat se bewerings het Smith die aand van 10 Oktober na die Little Britain-kroeg in Waterkloof gegaan. Met sy aankoms het Watson en die klaer hom glo by die ingang genader en gevra om die perseel te verlaat omdat hy aan ’n ander motorfietsklub behoort het, sê Lumka Mahanjana, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag.
Mahanjana sê Smith het daarna na bewering ’n vuurwapen uitgehaal en op die twee mans losgebrand voordat hy van die toneel gevlug het. Watson is op die toneel dood, terwyl die klaer ná die skietvoorval na die hospitaal vervoer is.
In die vroeë oggendure van die volgende dag het Smith homself by die polisie oorgegee en is hy daarna in hegtenis geneem.
Die saak is uitgestel tot 20 Oktober vir ’n formele borgaansoek.



