Chaos toe swerm bye mense en diere aanval: Hou die raad in gedagte
As jy las het met bye in jou erf of op ‘n perseel, moenie ‘n nes self probeer verwyder nie, Bye kan baie gevaarlik wees.
‘n Aanval van ‘n swerm bye wat vanoggend in Freedman, Unie, Loop – en Westraaat, verskeie mense, honde, en perde gesteek het, was vermoedelik die gevolg van iemand/iets wat die byekolonie in die omgewing gepla het, en gelei het tot die agressiewe aanval. Dit is die mening van Bee Free African Honey Bees wat hulp op die toneel verleen het en ook tot die redding gekom het van Elma van Aswegen van Uniestraat se Labrador en Jack Russel honde, asook twee perde wat deur die bye gesteek is.
Die Van Aswegens se honde is na Parys Dierehospitaal gehaas vir behandeling, maar was daar ook honde in hierdie omgewing wat nie die aanval oorleef het nie.

‘n Vrou van Uniestraat sowel as die eienaar van ‘n perdekar moes nood mediese behandeling ontvang, en is onderskeidelik na Potchefstroom MediClinic en Parys Distrik-hospitaal vervoer.
Die perde wat die perdekar getrek het, is verskeie kere gesteek. Personeel van die DBV en Bee Free African Honey Bees het deurentyd bystand verleen en is die verwilderde perde later met die hulp van vrywilligers na die DBV-perseel vervoer waar daar na hulle omgesien sal word totdat hul eienaar herstel het.

Amelda Ferreira van Wesstraat het na die voorval vertel dat haar man besig was om kar te was toe die bye om hom begin saamdrom het. Hy kon wel daarin slaag om betyds in die huis te kom. So ook die gesin se hondjie.
Sanet Steenkamp in Uniestraat is een van die mense wat deur die bye gesteek is, maar is sy gelukkig nie allergies vir bysteek nie, het sy vertel.
Hulle het ontbyt op die stoep geëet toe die bye skiellik op hulle toegesak het. “Die fout wat ek gemaak het was om na hulle te klap,” het Sanet vertel.
Na vanoggend se voorval is probleme met bye intussen ook in Oranjestraat aangemeld.
Bee Free African Honey Bees waarsku dat mense nooit met bye moet lol nie, Om met die Afrika-heuningby te lol is uiters gevaarlik nie net vir jou nie, maar ook vir jou diere, en staan hierdie bye nie verniet as die killer bee bekend nie. As hulle eers buite beheer geraak het en amok maak soos wat vanoggend gesien is, is daar niks wat jy kan doen om hulle te keer nie.
As jy ’n bynes of ’n swerm teëkom, moet jy dit nie versteur nie. Beweeg rustig weg en kontak ’n ervare byeboer of professionele persoon om dit veilig te hanteer.
Wanneer ‘n by in so ‘n aanval ‘n mens of dier sou steek, val die ander bye ook aan as gevolg van ‘n sogenaamde chemiese alarmsein bekend as feromoon wat deur ‘n spesiale klier naby die angel afgeskei word en wat die res van die swerm dan waarsku en aanspoor om aan te val.
Waardevolle raad
- As die oorsprong van die bye nie bekend is nie, is dit nie moontlik om hulle net te verwyder nie.
- Moenie probeer om vir die bye weg te hardloop nie, want hulle sal jou meters ver volg.
- Moet hulle nie pla deur plaagdoder te spuit nie. Dit kan hul meer agressief maak.
- Jou klap- en vinnige swaaibewegings om bye te verjaag, moedig ongelukkig juis bye aan om jou aan te val.
- Al wat jy kan probeer doen is om so gou moontlik weg te kom van die bye en verkieslik na ‘n donker plek te beweeg. Selfs die skadu van ‘n boom mag dalk help omdat bye eerder na lig beweeg.
- Moenie probeer om die bye self te verwyder nie, want as jy nie die nodige kennis het nie, keer hulle eenvoudig terug na die nes.
Hervestiging
Nood hervestiging van bye gebeur wanneer bye bedreig voel, met ander woorde gepla is waar hul gevestig was.
Hervestiging gebeur ook tussen September en November as deel van bye se natuurlike voortplantingsproses. Van die bye van ‘n korf kan dan afstig om ‘n nuwe korf te vestig. Met die hervestiging is die bye gewoonlik agressief en sien jy meer probleme met bye in hierdie maande,
Hou egter steeds in gedagte dat wanneer bye gepla word, jy kan verwag dat hulle agressief sal optree.
Byeboere lewer ‘n professionele diens
Byeboere het gespesialiseerde kennis en lewer ‘n professionele diens. Net soos wat jy ‘n loodgieter, elektrisiën, werktuigkundige ensovoorts sal betaal vir die diens wat gelewer word, is byeboere nie geneë om sonder vergoeding telkemale te help waar mense probleme met bye het nie. Dit is die byeboer se tyd, koste en risiko waarvoor jy betaal.
Wees daarom voorbereid daarop dat jy vir die diens, soos vir alle ander dienste sal moet betaal, maar as jy die veiligheid van jou gesin en jou diere in ag neem, is dit ‘n geringe prys om te betaal.
Moenie wag totdat dit ‘n probleem is nie
Dikwels wag mense totdat bye ‘n probleem is voordat professionele hulp gekry word. As jy weet dat bye nes gemaak het in ‘n skoorsteen, kaggel, muur of ander opening, tree dadelik op. Kry professionele hulp. Jy stel jou eie, jou gesin, jou diere en jou bure se lewens in gevaar deur te wag totdat bye ‘n probleem geword het.
Hoekom is bye belangrik?
Hoewel bye in Suid-Afrika nie as ‘n bedreigde spesie beskou word nie, wil dit lyk asof die klein, maar baie nuttige insek in ons ekosisteem, stadig besig is om regoor die wêreld uit te sterf. Juis daarom is dit egter ook belangrik dat ons bye moet beskerm.
Bye help om plante en gewasse lewend te hou deur bestuiwing. Bestuiwers dra stuifmeel en sade oor van een blom na die volgende, en bestuif die plante om te groei en voedsel te produseer. Kruisbestuiwing help ten minste 30% van die wêreld se gewasse en ten minste 90 % van ons wilde plante floreer as gevolg van bye.
As bye nie saad versprei nie, sal die meeste van ons plante en gewasse uitgewis word. In die Vredefort Koepel-area is ons nog gelukkig om heelwat bye hier in die natuur te hê.
Munisipale bywette handel met die regulasies wat die aanhou van bye in residensiële gebiede verbied.
Bysteek – wat om te verwag
In die meeste gevalle veroorsaak ‘n bysteek ‘n matige gelokaliseerde reaksie waar die by jou gesteek het. Jy kan swelling, rooiheid en selfs intense pyn verwag waar die by jou gesteek het. ‘n Jeukerigheid en irritasie van die vel is ook nie ongewoon nie. Dit sal egter beperk wees tot die plek waar die by jou gesteek het en kan jy die genoemde simptome dalk vir ‘n paar dae ervaar. In sommige gevalle kan ‘n matige tot he-wige allergiese reaksie wel voorkom.
Hoe gemaak as ‘n by jou steek?
* Skraap die angel onmiddellik uit met ‘n plat voorwerp om te verhoed dat die gif van die angel versprei.
* Maak die geaffekteerde deel goed skoon met warm water en seep.
* Sit ‘n yspak op om swelling en rooiheid te help voorkom. Monitor die persoon vir enige allergiese reaksie. Moenie die steekplek krap nie.

Wanneer is mediese hulp nodig?
* Vel wat jeuk of ‘n uitslag verder as die direkte omliggende area van die bysteek.
* Swelling rondom die oë en swelling van die tong.
* Kortasem of probleme met asemhaling,
* Braking en koue en klam vel
* Deurmekaar
As jy allergies is vir bysteek is dit baie belangrik dat jy seker maak dat jy die nodige medikasie byderhand het ook wanneer jy met vakansie gaan, en dit dan by jou te hou.
‘n Goeie wenk is om ook wanneer jy beplan om weg te gaan, vooraf jouself te vergewis van waar die naaste mediese fasiliteit in die omgewing is waar jy sal tuisgaan.
(Inligting oor bysteek verskaf deur Cert-SA )
Stoor die volgende noodnommers op jou foon:
- DBV noodnommer – 072 894 4061
- ER24 Parys – 057 916 5999
- ER24 Parys WhatsApp – 066 110 4256
- Parys Medix – 083 559 0674
- IMR – 083 287 6577
- EMS – 112 of 087 348 4509, of gebruik die Bophelo selfoontapassing om die provinsiale ambulansdiens te ontbied.
- Bee Free African Honey Bee – 062 359 2064/084 0108 009



