Liefde blom in ouma Miekie se tuin
Elke hoekie van die tuin is 'n skepping gemaak deur ouma Miekie se hande - kunstig, kleurvol en besonders.
In haar lowergroen tuin staan kunstig gemaakte feëtjie-huisies tussen uitbundige blomkleure,. en teen die klipstoortjie waarvan sy elkeen van die klippe self bymekaar gemaak en aangery het, waak ‘n engel oor haar blommeprag.

In dié tuin in die Esplenade blom liefde – baldadig, in oorvloed. Geplant en gekoester deur die 82-jarige ouma Miekie Coetzer.
Kleintyd al het ouma Miekie se vingers, nou krom getrek deur artritis, hul vreugde gevind in die grond waar sy haar liefde vir tuinmaak uitleef. ‘n Liefde wat oor jare gebly het, en steeds haar lewensvreugde is.
Elke dag kry jy haar hier in haar tuin, self aan die werk. “Kyk hoe geil groei die groen varkore” wys sy.

Haar vetplanttuin, haar trots. So ook die Blossom magic met sy pienk rose wat trou aan hul naam bederf met ‘n magic wat jou oog vang.

Daar is die helder diep oranje van haar besondere Kannas, en die Inka-lelies wat in elke kleur pronk.

Langs die huis ‘n ry Malva-potte wat jou vrolik groet.
Wanneer die felheid van die somerhitte jou tuin se asem wegslaan, is meerjarige plante wat min water nodig het, altyd ‘n wenner, vertel ouma Miekie. So ook die Kannas met hul mooi kleure wat min water vra.
In jou groentetuin kan spinasie en wortels met minder water tevrede wees, wys sy in die verbystap by die kleurvolle voëlverskrikker wat wag hou oor haar spinasie in haar groentetuin.

‘n Suurlemoenboom en die spekbome is ‘n moet in jou tuin, vertel sy Veral die spekboom is nie net mooi nie, maar gehard, en bring sy kant in die natuur.
Moet ook nie die Inkas, Verbinas, Michael Miss Daisies en vygies vergeet nie. Wanneer water min is en die hitte oorweldigend, kan jy met hulle nie verkeerd gaan nie.

Sondag was nasionale tuindag – ‘n oproep op tuiniers om hul tuingereedskap vir ‘n oomblik neer te sit, en die natuur om hulle te geniet.
Maar waar beter as in jou eie tuin waar jy die vreugde van jou handewerk kan geniet,
‘n Vreugde wat jy sien straal by ouma Miekie in haar tuin waar feëtjiehuisies staan tussen die oorvloed van blommeprag.




