Met 1 791 handgemaakte borsprosteses, duisende ure se breiwerk en selfs ’n groep motorfietsryers wat ingespring het, het Solidariteit Helpende Hand se Boesemvriendinne-projek Vrydag (30 Oktober) gewys hoe gewone mense buitengewone dinge kan vermag.
Die prosteses is tydens die projek se jaarlikse uitdeeldag by die Voortrekkermonument in Pretoria aan die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA) oorhandig vir verspreiding aan vroue wat ’n mastektomie ondergaan het.
Agter dié skenking lê na raming 14 328 uur se brei- en hekelwerk en sowat 5,1 miljoen steke. Dit is die handewerk van vrywilligers uit 15 streke landwyd wat deur die jaar hul tyd en vaardighede beskikbaar gestel het om ander vroue te ondersteun.
Volgens René Roux, bestuurshoof van media by Solidariteit Helpende Hand, vertel die getalle egter net ’n gedeelte van die verhaal.
“Iewers in Suid-Afrika sit daar vandag ’n vrou met ’n bolletjie wol op haar skoot en ’n hekelpen of breinaalde in haar hande. Sy werk aan ’n sagte borsprostese vir iemand wie se naam sy waarskynlik nooit sal ken nie en wie se verhaal sy dalk nooit sal hoor nie. Tog is sy bereid om van haar tyd, talent en liefde te gee,” sê Roux.
Boesemvriendinne voorsien sagte, gebreide of gehekelde borsprosteses aan vroue wat nie tradisionele silikonprosteses of borsrekonstruksie verkies of kan bekostig nie. Die prosteses bied ’n gemaklike alternatief en kan vroue help om weer meer selfversekerd te voel.

Motorfietsryers bring ’n geraas van genade
Een van die besondere oomblikke tydens vanjaar se uitdeeldag was toe ’n groep motorfietsryers by die Voortrekkermonument opgedaag het, nie om aan ’n wedren deel te neem nie, maar om wol en breipakkies te kom haal.
Lede van die Pretoria Bikers Council, waaronder motorfietsryers wat by Pick Them Up, Unite for Jesus en Geraas van Genade betrokke is, het 20 breipakkies ontvang om aan die inwoners van Serene Tehuis vir Bejaardes te oorhandig.
Die inwoners gaan die pakkies gebruik om prosteses vir volgende jaar se uitdeeldag te brei en te hekel.
Dié samewerking het ontstaan nadat Radio Kansel se Hartklank-program by Boesemvriendinne betrokke geraak en gehelp het om die projek verder uit te dra.
“Daar was iets besonders aan die gedagte dat ’n groep motorfietsryers by ’n projek vir sagte, gebreide borsprosteses betrokke raak. Toe die motorfietse by die monument aankom, was dit inderdaad omtrent ’n geraas van genade,” vertel Roux.
“Dit wys hoe elke mens met dit wat hy het ’n bydrae kan lewer, of dit nou ’n motorfiets, ’n bolletjie wol, ’n paar breinaalde of bloot die bereidwilligheid is om tyd te maak vir iemand anders.”
Nuwe sokkiereeks help om nog meer vroue te bereik
Tydens die geleentheid is Boesemvriendinne se jongste sokkiereeks ook bekendgestel.
Volgens Chandré Joubert, projekorganiseerder van Boesemvriendinne, speel die verkoop van dié kouse, in samewerking met SOX Footwear en USN, ’n belangrike rol om die projek volhoubaar te maak. Die opbrengs help om brei- en hekelpakkies aan te koop wat aan vrywilligers beskikbaar gestel word.
“Boesemvriendinne bewys dat klein dade, wanneer ’n gemeenskap saamstaan, ’n groot verskil kan maak. Elke steek, elke hand wat help en elke vrywilliger dra by tot ’n groter doel om vroue te herinner dat hulle nie alleen is nie,” sê Joubert.
Helpende Hand het sy dank uitgespreek teenoor Elmé Churr, KANSA, SOX Footwear, USN, Moreleta Kerk, Voelgoed Media, Dinamika Finansiële Dienste, Radio Kansel en die talle vrywilligers wat die projek moontlik maak.
Hoewel vanjaar se prosteses reeds oorhandig is, het die breiwerk vir 2027 reeds begin.
“Ons hoop om volgende jaar nog meer vroue te bereik. Uiteindelik gaan dit oor meer as hoeveel prosteses ons kan oorhandig. Dit gaan oor die vrou wat deur ’n eenvoudige daad van liefde vir ’n ander vrou sê: Ek ken jou dalk nie, maar ek dink aan jou, ek gee om en jy hoef nie hierdie pad alleen te stap nie,” sê Roux.
Die publiek word aangemoedig om betrokke te raak deur self te brei of te hekel, breipakkies te borg of die spesiale sokkies aan te koop.

Vir meer inligting en om betrokke te raak, besoek www.boesemvriendinne.co.za



