Parys verloor ‘n groot steunpilaar
Sy heengaan word diep betreur.
Fred Burger was ‘n man van inbors. ‘n Man wat betrokke was in sy gemeenskap. ‘n Reguit mens, standvastig en ‘n steunpilaar. Sy betrokkenheid by die Parys Gemeenskap Polisiëring Forum en die MOTHs Barrage Shellhole het ‘n blywende indruk gelaat met sy toewyding en bereidheid om te dien.
Fred is Vrydag 30 Oktober na ‘n kort siekbed in Mediclinic Vereeniging oorlede. Hy was 80 jaar oud.
Hy het vroeër jare aanvanklik eers in die Vloot gedien, en daarna by 1 Valskermbataljon van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag waar hy as kolonel afgetree het.
Na sy aftrede was hy ‘n tyd in die eiendomsbedryf, en vestig hy hom sowat agt jaar gelede in Parys.
Hy was lief vir hengel, het graag gholf gespeel en gestap.

Fred word oorleef deur sy kinders, Gerda, Pieter, Freddie en Jimmy, sy kleinkinders, agterkleinkinders en ‘n broer en suster wat hom met net die mooiste herinneringe sal onthou.
Sy seun Pieter, het sy pa beskryf as ‘n soliede en liefdevolle pa en eggenoot wat geleef het vir sy familie. Sy uitkyk op die lewe was dat jy groter is as die probleme wat oor jou pad kom.
Die Parys GPF het in hul huldeblyk aan hom die volgende geskryf: Parys GPF sal oom Fred onthou as ‘n man met ‘n hart vir sy gemeenskap. ‘n Ondersteuner van reg en geregtigheid en geliefd onder sy vriende. Dankie vir die jarelange diens as komiteelid van Parys GPF.
Old Bill Johan van der Merwe van die MOTHs Barrage Shellhole het Fred ook as ‘n jarelange, toegewyde en betrokke MOTH beskryf wie se heengaan diep betreur word.
Die dood van sy vrou, Girtie, in Januarie vanjaar was ‘n groot slag vir hom.
Die gedenkdiens vir Fred is Vrydag 6 November om 11:00 vanuit die NG Oos-gemeente.
Parys salueer ‘n man wat diep spore agterlaat in die gemeenskap.



