Verbruikers gewaarsku teen Black Friday-bedrog: Kyk hierna voordat jy betaal
Volgens die Suid-Afrikaanse Bank Risiko Inligting Sentrum (SABRIC) het Suid-Afrikaners gedurende 2025 'n verstommende sowat R2,4 miljard weens digitale bankbedrog verloor.
Black Friday bied vir baie verbruikers die ideale kans om winskopies los te slaan, veral met die Kerstyd in gedagte. Ongelukkig is dit ook die tyd wanneer baie bedrog gesien word met vals winskopies, bedrieglike afleweringskennisgewings en kubermisdadigers wat persoonlike inligting probeer bekom.
Die hele gedagte agter Black Friday-aanbiedinge is om verbruikers te kry om vinnig op winskopies te reager, en dit is hierdie dringendheid waarop swendelaars ook staatmaak.
Met Internasionale Bedrogbewustheidsweek wat van 15 tot 21 November plaasvind en Black Friday wat op 27 November volg, waarsku RCS Suid-Afrikaners om te dink voordat jy op skakels klik, betalings doen of persoonlike inligting deel.
Volgens die Suid-Afrikaanse Bank Risiko Inligting Sentrum (SABRIC) het Suid-Afrikaners gedurende 2025 sowat R2,4 miljard weens digitale bankbedrog verloor. Dit verteenwoordig gemiddeld bykans R22 000 per voorval.
Die grootste deel van dié verliese spruit uit sogenaamde sosiale manipulasie, waar misdadigers mense mislei om persoonlike inligting bekend te maak of betalings goed te keur, eerder as om bankstelsels direk aan te val.
“Die meeste swendelary berus op een van twee taktieke. Misdadigers probeer jou óf met valse dringendheid jaag, óf jou vertroue wen deur voor te gee dat hulle betroubaar is. Sodra jy hierdie truuks herken, is dit baie makliker om bedrog raak te sien,” sê Audrey Roberts, uitvoerende hoof van kliënte-bedrywighede by RCS.
Selfs wat jy sien, is nie noodwendig die waarheid nie
Kunsmatige intelligensie (KI) maak dit al moeiliker om swendelary te herken. Misdadigers gebruik dié tegnologie om professioneel geformuleerde en persoonlike boodskappe te skep wat lyk asof dit van ‘n bekende onderneming of selfs iemand wat jy ken, afkomstig is.
“Die spelfoute wat voorheen dikwels bedrogboodskappe verklap het, verdwyn al hoe meer. KI kan binne sekondes oortuigende boodskappe skryf, terwyl sogenaamde deepfakes realistiese foto’s en video’s kan skep,” sê Roberts.
Sy raai verbruikers aan om enige boodskap wat skynbaar van ‘n bekende handelsmerk of persoon afkomstig is, deur ‘n reeds bekende en betroubare kanaal te verifieer, soos die onderneming se amptelike webwerf of ‘n telefoonnommer wat self gestoor is.
Verbruikers wat KI-kletsrobotte gebruik om na winskopies te soek, moet ook daarteen waak om wagwoorde, kaartbesonderhede, identiteitsnommers of ander persoonlike inligting in te tik. Hierdie inligting kan moontlik gestoor of nagegaan word.
4 Black Friday-slenters waarvoor kopers moet oppas
1. Die vals winskopie: Nabootsingswebwerwe of advertensies op sosiale media bied bekende handelsmerke se produkte teen ongelooflik lae pryse aan. Die goedere word nooit afgelewer nie en jou kaartbesonderhede kan gesteel word.
2. Die afleweringsbedrogspul: ‘n SMS, WhatsApp-boodskap of e-pos waarsku dat ‘n pakkie vertraag is of dat ‘n klein aflewerings- of doeanegeldjie betaal moet word. Volg pakkies slegs deur die kleinhandelaar se amptelike webwerf of toepassing.
3. Die vals kompetisie: Kompetisies of koopbewysaanbiedinge vra vir persoonlike besonderhede, ‘n sogenaamde administrasiefooi of jou eenmalige PIN-kode (OTP) voordat jy ‘n prys kan ontvang. Wettige kompetisies sal nooit jou OTP aanvra nie.
4. Die vals hulplyn: Bedrieglike telefoonnommers word aanlyn geplaas sodat dit in soekresultate en KI-soekopsommings verskyn. Bel winkels slegs by die nommers wat op hul amptelike webwerwe of jou bestellingbevestiging verskyn.
6 Gewoontes om jou aanlyn veilig te hou
RCS gee die volgende wenke om verbruikers teen aanlyn bedrog te beskerm:
- As ‘n aanbod te goed klink om waar te wees, is dit waarskynlik.
- Gaan die volledige webadres na. ‘n Hangslot-simbool of die letters “https” waarborg nie dat ‘n webwerf eg is nie.
- Moet nooit jou PIN, wagwoord of OTP deel nie. Moet ook nie ‘n banktoepassing se kennisgewing goedkeur vir ‘n betaling wat jy nie self gemaak het nie.
- Wees versigtig vir verkopers wat daarop aandring dat jy onmiddellik deur middel van ‘n elektroniese fondsoorplasing (EFT) betaal eerder as met ‘n bankkaart.
- Gebruik mobiele data, eerder as openbare Wi-Fi, wanneer jy aanlyn inkopies doen of bankdienste gebruik.
- Gebruik ‘n sterk en unieke wagwoord vir elke rekening, aktiveer tweestap-verifikasie en laai toepassings slegs van amptelike toepassingswinkels af.
“RCS sal jou nooit bel, SMS of e-pos stuur om jou PIN, wagwoord of OTP aan te vra nie. Indien iemand dit doen, selfs al beskik hulle oor sommige van jou persoonlike besonderhede, is dit bedrog,” waarsku Roberts.
Wat om te doen indien jy vermoed dat jy bedrieg is
Roberts maan enigiemand wat vermoed dat hulle die slagoffer van bedrog geword het om alle kontak met die verdagte persoon of onderneming onmiddellik te staak en vinnig op te tree.
“Bewaar boodskappe, skermgrepe en betalingsbewyse, aangesien dit belangrik is wanneer jy die voorval aanmeld. Daar is geen rede om skaam te voel omdat jy geteiken is nie. Hierdie misdadigers is professionele swendelaars. Deur die voorval vinnig aan te meld, kan verdere verliese beperk en ander mense beskerm word,” sê sy.

Indien jy vermoed dat jy ‘n slagoffer van bedrog geword het, moet jy:
- Jou bank of kredietverskaffer onmiddellik kontak om jou kaart te stop of die transaksie te blokkeer.
- Die wagwoorde van alle moontlik geraakte rekeninge verander.
- Die misdaad by jou naaste polisiestasie aanmeld en ‘n saaknommer aanvra.


