Local newsNews

‘Net R48 in my rekening ná swendelaars my belieg oor bankbedrog’

Die oomblik toe die geld na die nuutgeskepte rekening oorgeplaas is, was dit weg en is die oproep beëindig.

‘n Vrou van Parys wat onder die voorwaarde van anonimiteit met Gazette gepraat het, was al haar geld kwyt nadat sy die slagoffer van ‘n gewetenlose swendelaar geword het wat haar as ‘n werknemer van ‘n bank se bedrogafdeling voorgedoen het.

Die oproep vanaf ‘n 013-nommer is Donderdagmiddag 5 November net ná 14:00 gemaak. ‘n Professionele en welsprekende Engelssprekende dame, wat haar slagoffer op haar naam aangespreek het, het haar gewaarsku dat iemand besig was om goedere ter waarde van R5 000 by Woolworths op haar rekening te koop.


“Ek vertrou nie gewoonlik vreemde nommers of oproepe soos hierdie nie en het dadelik gevra hoe ek kon weet dat die oproep nie ‘n skelmstreek is nie,” het die slagoffer vertel. Sy is egter gerusgestel met ‘n verwysingsnommer vir die oproep en die versekering dat ‘n afspraak reeds vir haar by die bank gemaak is, sodat sy daar gehelp kon word om die bedrog aan te meld. Die naam en van van die persoon met wie die afspraak gemaak is, het haar verder gerusgestel omdat sy mense in die dorp met dié ongewone van ken.


Die dame het verduidelik dat haar rekening om veiligheidsredes geblokkeer sou word om verdere verdagte transaksies te voorkom. Daarna moes sy haar aanlynbanktoepassing oopmaak en is sy stap vir stap gelei om eers ‘n nuwe rekening op die toepassing te skep en daarna al haar geld uit haar onderskeie rekeninge by die bank, na die nuutgeskepte rekening oor te plaas, aangesien die bestaande rekeninge daarna nie meer aktief sou wees nie.


Terwyl sy die instruksies gevolg het, het die swendelaar selfs aangedui dat daar nóg ‘n verdagte transaksie op haar rekening bespeur is.

Tydens die oproep het haar selfoon vir ‘n lang ruk gelyk asof dit vries, en is die oproep selfs op ‘n stadium onderbreek.
Die swendelaar het aangedui dat ‘n boodskap wat haar teen bedrog waarsku, op haar foon sou verskyn, maar dat sy bloot die opsie moes kies om met die oproep voort te gaan, wat sy toe gedoen het.


“Die dame was so oortuigend dat ek geen rede gehad het om te vermoed dat dit ‘n slenter was nie.”


Maar die oomblik toe die geld na die nuutgeskepte rekening oorgeplaas is, was dit weg en is die oproep beëindig. Nodeloos om te sê, die nommer was daarna ook nie meer bereikbaar nie.


Nadat sy na haar plaaslike banktak gegaan het om die bedrog aan te meld, is bevestig dat die oproep inderdaad nie van die bank afkomstig was nie en dat daar boonop geen afspraak met iemand gemaak is om haar met die aanmelding van die bedrog te help nie.


Die saak is by die polisiestasie aangemeld.


Al wat die slagoffer ná die 28 minute lange oproep oorgehad het, was ‘n skamele R48 in haar rekening.

  • Die vrou het haar opregte dank betuig teenoor die Parys-gemeenskap wat haar bygestaan en ondersteun het waar hul kon na die ongelukkige insident. Die bank het intussen die slagoffer tegemoet gekom en haar vergoed vir die bedrag wat sy verloor het, is Donderdagoggend bevestig.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button