Local newsNews

Sonpanele: Moenie dat skade jou onkant vang nie

Geen versekeraar in Suid-Afrika sal ‘n eis vir weerlig- of stormskade uitbetaal as jy nie ‘n geldige, getekende elektriese CoC van ‘n geregistreerde installeerder kan indien nie.

Sonpanele word van geharde glas vervaardig en kan oor die algemeen stormweer trotseer. Uiterste haelstorms en weerligslae kan egter in sommige gevalle wel skade veroorsaak.


‘n Swaar haelstorm wat Sondag die weste van Pretoria getref het, het Morné Coetzee van Elarduspark die vraag laat vra waarop sonpaneel-eienaars moet let as daar die moontlikheid van skade kan wees.

Die hael wat verlede naweek in die weste van Pretoria geval het. Foto: Morné Coetzee, Facebook.


Volgens Saal de Jager van Solargy SA, behoort sonpanele elke ses maande, of minstens jaarliks gediens te word om onder meer te kyk vir tekens van skade, of voëlneste onder die panele. Neste onder sonpanele belemmer lugvloei wat nodig is vir verkoeling van die paneel.


“Met oor die 700 sonpaneelstelsels wat hy al in Parys geïnstalleer het, word weerskade nie dikwels op die sonpanele gesien nie, maar gebeur dit wel,” sê hy.


Omdat sonpanele dikwels teen ‘n helling geïnstalleer word, is die moontlikheid van skade byvoorbeeld minder as wanneer sonpanele sonder ‘n hellling geïnstalleer word.


De Jager sê hedendaagse materiaal wat gebruik word vir die vervaardiging van die sonpanele is ook minder geneig tot skade en word streng getoets.


Wanneer jy skade vermoed, of wanneer die panele gediens word, sal eerstens gekyk word na sigbare skade. Die geharde glas kan kraak of splinter, wat veroorsaak dat vog in die paneel insypel en dan kortsluitings of brandgevaar veroorsaak.


Selfs as die glas aan die buitekant heel lyk na ‘n haelstorm, kan die impak van’n swaar haelstorm klein, of minder sigbare krakies (micro-cracks) in die onderliggende kragselle veroorsaak. Hierdie krake ontwrig die vloei van elektrisiteit, skep kolle wat oorverhit, en laat die paneel se doeltreffendheid oor die loop van ‘n paar maande of jare drasties afneem. Daarom is dit belangrik om ‘n diensverskaffer wat ‘n geoefende oog het om hierdie skade raak te sien, te nader.


De Jager sê dit is ook belangrik dat jy jou sonpanele minstens een keer per jaar, veral in die winter voor die reënseisoen, sal was. So raak jy ook ontslae van voëlmis op jou panele.


Hy waarsku egter dat mense versigtig moet wees as hulle op ‘n dak sou klim om self ‘n sonpaneel te was. Skuinsdakke kan veral gevaarlik wees wanneer dit nat is en jy kan gly.

Nie-sigbare skade aan jou sonkragstelsel

Veral met swaar weer soos wat verlede week in Parys ervaar is, hoef die sonpanele nie direk deur weerlig getref te word om skade te kry nie. Indirekte slae en spanningstuwings as weerlig naby jou huis of op ‘n nabygeleë kraglyn slaan, kan ‘n magnetiese
veld veroorsaak wat hoëspanningstuwings in die stelsel se bedrading tot gevolg het.

Sulke kragstuwings beweeg deur die kabels en kan sensitiewe komponente van jou omsetter (inverter), batterye en die panele
self brand.

As jy skade vermoed na swaar weer is dit raadsaam om te let op jou MPPT (Maximum Power Point Tracking) op jou omsetter wat ‘n aanduiding gee van die kragtoevoer vanaf jou sonpanele na jou stelsel.

Dit is nodig dat jy jou sonpanele jaarliks diens en skoonhou. Foto: Liezl Scheepers
Dit is nodig dat jy jou sonpanele jaarliks diens en skoonhou. Foto: Liezl Scheepers

Afgesien van sigbare skade aan jou sonpanele, is dit hier waar jy sal sien as jou sonpanele nie optimaal krag voorsien
soos vroeër nie.

Sonpanele word gewoonlik in ‘n ry gekoppel aan die omsetter. As een paneel in so ‘n ry nie werk nie, is die hele ry panele nie effektief nie. Dit is ook nie noodwendig die gevolg van weerskade nie, en kan ‘n los koppelstuk tussen panele ook die probleem
veroorsaak.

Wanneer jou stelsel sou vries kan ‘n sogenaamde cold start (restart) die probleem oplos, maar dit is belangrik dat
wanneer jy skade vermoed, jy eerder jou diensverskaffer sal vra om die stelsel te kom toets.

Moet ook nie jou stelsel se gereelde dienste verwaarloos nie.

Hoe beskerm jy jou sonkragstelsel?

Om die risiko van skade te beperk moet die korrekte voorsorgmaatreëls tydens installasie getref word. Stustroom- beskermingstoestelle (SPD’s) moet op beide die gelykstroom- (DC – vanaf die panele) en wisselstroomkante (AC – na jou DB-bord) geïnstalleer wees.

“Die sonpanele se aluminiumraamwerke moet ook behoorlik geaard wees,” sê De Jager. Dit gee die elektriese
lading ‘n veilige pad grond toe.

In hoë-risiko areas kan ‘n eksterne weerligafleier geïnstalleer word om direkte slae weg te lei van die dak af.

Versekering is belangrik

Haelskade word gewoonlik nie deur die vervaardiger se waarborg gedek nie. Daarom is versekering van jou sonkragstelsel as
deel van jou gebouversekering belangrik, sê Dawie Bornman van Vaalrivier Makelaars.

Stel jou versekeringsmaatskappy in kennis sodra die stelsel geïnstalleer is, en maak seker jou totale versekerde waarde word verhoog om die herstel- of vervangingskoste van die stelsel te dek. Bornman se raad is dat jy die faktuur met jou sonkragstelsel se volledige spesifikasies daarop, tesame met jou CoC sertifikaat (Certificate of Compliance) aan jou versekeraar stuur.

Geen versekeraar in Suid-Afrika sal ‘n eis vir weerlig- of stormskade uitbetaal as jy nie ‘n geldige, getekende elektriese CoC van
‘n geregistreerde installeerder kan indien nie. “Gee eerder té veel inligting deur aan jou versekeraar as te min,” sê Bornman.

Soos De Jager, het hy ook die belangrikheid van gereelde diens en instandhouding van sonkragstelsels benadruk. “Deur jou stelsel
in stand te hou beperk jy nie net skade nie, maar kan jy lewensverlies voorkom veral in geval van ‘n brand wat tragiese gevolge vir jou en jou gesin kan hê.” Meeste verskeraars vereis deesdae dat jy ‘n Lithiumbrandblusser sal hê.

Hou in gedagte dat wanneer jy ‘n eis indien, jy kan verwag dat ‘n kundige assessor uitgestuur sal word na jou eiendom.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button