Broodjiedag – jy kan ’n verskil maak
Wanneer dit winter is, is jy mos ekstra honger. Veral saans wanneer dit koud en donker is. Ons hoef nie Hillbrow toe te gaan om ware hongerte en ellende te sien nie. In Parys, soos in baie ander dorpe, is daar soveel mense wat regtig swaarkry. Hoe bitter moet dit nie wees om ‘n kind …

Wanneer dit winter is, is jy mos ekstra honger.
Veral saans wanneer dit koud en donker is. Ons hoef nie Hillbrow toe te gaan om ware hongerte en ellende te sien nie. In Parys, soos in baie ander dorpe, is daar soveel mense wat regtig swaarkry. Hoe bitter moet dit nie wees om ‘n kind honger bed toe te stuur, of sonder ontbyt skool toe nie?
Dit is waarom Vrystaat Versorging in Aksie die Broodjiedag- projek ’n paar jaar gelede begin het. Op hierdie dag word daar gepoog om sover moontlik ‘n brood te voorsien in elke huis in Parys waar daar nood is.
Daarom vra VVA dat almal wat kan, asseblief op Broodjiedag 28 Julie sal help om ’n verskil te maak. Jy kan jou bydrae afgee by die VVA-kantoor in Buitenstraat, Parys.
Kyk ook uit vir die trollie by die ingang van jou supermark waar jy ‘n brood, broodrolletjies of nie-bederfbare voedsel kan skenk. Dit gaan ‘n groot verskil maak waar daar nood is.
Jy kan ook jou bydrae maak deur VVA se pannekoekbak-projek te ondersteun op 28 Julie voor Pick n Pay. VVA se jaarvergadering is op 25 Julie om 09:00 en alle belangstellendes is welkom om te kom luister wat hierdie organisasie in jou gemeenskap doen, en waar jy betrokke kan raak. Bevestig bywoning vooraf by die VVA-kantoor by (056) 811 2971.
Op Mandeladag 18 Julie het VVA juis met die hulp van ‘n borgskap van Stonehenge, etes aan hulle wat minder het in Parys en Schonkenville voorsien, en is daar ook die strate ingevaar om te help om die dorp skoon te maak.



