
Sonde met die bure? Nie in Parys nie.
Ek hou nie daarvan om te baklei nie. En ek hou ook nie daarvan as met my baklei word nie. Daarom was ek benoud na tien jaar op ‘n landgoed (lees: plot), waar my naaste buurman verder as twee klipgooie van my gewoon het, om na ‘n dorpserf toe te trek. Want dan is jou buurman en sy honde en katte en voëls nader as ‘n klipgooi aan jou.
Nie dat ek niks sonde met my bure op die kleinhoewe gehad het nie. My een buurman het ses Jack Russels gehad wat geen ontsag vir ‘n elektriese heining gehad het nie en die vermoë gehad het om onder die dwarspaal van my vrou se ganshok deur te tonnel en die ganse te vermink deur hulle halfpad op te vreet. Ja, honde was ‘n groot probleem. Een slag het die groot honde van ‘n ander buurman uitgekom en my vrou se emoes geskraap. As ‘n emoe eers hardloop, dan hardloop hy. Hy spring loshande (los- bene) oor watter hoë heining. Een emoe het ons nooit weer gesien nie. Dalk hardloop hy vandag nog.
‘n Ander buurman het teen alle regulasies in vir hom ‘n staalwerkfabriek opgesit en van die oggend voor sewe begin staal sny. Dit was so ’n geraas en dit het tot onmin gely.
As dit so was daar waar jou buurman ver bly, hoe sal dit wees as jou buurman onder jou neus bly? Ek was benoud.
En toe, na ons ingetrek het, ontdek ons ons buurman neffens boer met hierdie wolhaarhondjie keffertjies. Nie een of twee nie, ook nie vier of ses nie. ‘n Hele twaalf of dertien van hulle. En daar is net ‘n ogiesdraadheining tussen ons erwe. En aanvanklik het hulle woes gekef as ek in die agtertuin kom, veral as ek in die groentebedding langs die draad werskaf. En toe kry ons nuwe bure oorkant die straat met nog ‘n hele paar honde wat blaf elke keer as ek in die voortuin kom.
Ek was oortuig daarvan dat ek ‘n groot fout gemaak het om dorp toe te trek. Een troos was my ander buurman se mak tarentale. Mooi goed, nie die gespikkeldes nie, maar egalig gekleur. Hulle loop sommer in die straat rond, kom partykeer in my tuin en skrop in die groentebeddings. Hulle is welkom want hulle raas nie en rig ook nie skade aan nie.
Op ‘n dag kom ek agter dat die wolhaarhondjies nie meer blaf elke keer as ek in die tuin is nie. Hulle lê of en slaap of kom heining toe en sit daar en kyk vir my gewerskaf. Hulle druk selfs hulle snoetjies deur die ogies van die draad sodat ek nie anders kan om hulle koppe te krap nie. Ek dink hulle is nou bly om my te sien, want hulle baas werk voldag. En die honde oorkant die straat blaf ook nie meer vir my nie. En hulle blaf ook nie onnodig nie.
En toe tref dit my. As daar iemand in die straat verbyloop, blaf eers die oorkantste honde en dan storm die keffertjies hek toe en blaf ook.
Nee, ek het nie sonde met die bure of hulle honde nie. Ek het eintlik ‘n swetterjoel waghonde. Hulle kos my niks. Die oorkanstes sal tekere gaan as iemand onwettig in my voortuin kom en die keffertjies sal woes lawaai as iemand in my agtertuin kom.
Salig, hier in Parys.



