
’n Netjiese hou teen die kakebeen het al die bene bewerig gemaak – maar toe kom Divan Groenewald se finale uitklophou vir opponent, Hekkie Butler, in die tweede ronde wat die spreekwoordelike koeël deur die kerk was.
Hekkie kon die nederlaag nie glo nie, en wil Divan weer in die kryt sien om die “Superhero” titel terug te wen.
Hekkie is tans die wêreldkampioen in sy gewigsklas en het onlangs die IBF World Light Flyweight-titel, die WBA Super World Ligh Flyweight-titel, en die Ring Magazine Belt-titel, ingepalm.
Met die oog op sy ontmoeting met Hekkie, het Divan hard saam met afrigter, Soon Botes van IBF geoefen, en Hekkie uitgedaag vir die drie ronde boksgeveg vir die spesiale “Superhero”-titel wat die aand op die spel was.
Die geveg is beslis tydens die Box & Dine geleentheid wat op 6 Oktober by Impact Boxing Fitness in Vanderbijlpark gehou is ten bate van Divan.
Dit was ’n aand met baie lag, trane, trots en harte wat oorgeloop het van dankbaarheid.
Divan het vroeër só ’n indruk op Impact Boxing Fitness gemaak met sy ongelooflike deursettingsvermoë, dat besluit is om met dié besondere aand waar hy teen groot name in die bokswêreld in die kryt te staan sou kom, uitgereik is na dié besondere jong man, om fondse in te samel vir ’n nuwe rolstoel vir hom, en om te help met sy hoë mediese kostes.

Divan is 19 jaar oud en ly aan ’n baie rare siekte wat in so min as 70 gevalle wêreldwyd aangemeld is. Mohr Tranebjearg-sindroom is ’n degeneratiewe siekte wat op ouderdom 3 by Divan gediagnoseer is. Toe hy 1 jaar oud was, moes hy al begin bril dra, en op 3 ook begin staatmaak op gehoorapparate.
Mettertyd kon hy nie meer sonder hulp loop nie, en kom hy met ’n rolstoel oor die weg. In 2016 moes hy ’n rugoperasie ondergaan om skade as gevolg van skoliose en kifose te herstel wat die funksionering van sy longe en niere nadelig geraak het. Daarna het sy eerste heupvervanging gevolg, en wag nog ’n heupvervanging moontlik vir hom in die nabye toekoms.
Ander bekendes in boksgeledere wat onder meer die Box & Dine geleentheid bygewoon het, was Ruann Visser, Vlad Sirenko, Gerhard Botes, Anton Nel, Giovanni Pretorius, Bevan Beckmann, Soon Botes en Wessel Mostert.
Dankie aan almal wat van die aand ’n groot sukses gemaak het. Goeie gevegte is gesien en ’n hele paar uitklophoue wat van elke bokser in die kryt waardige wenners en opponente gemaak het.




