
Tussen 1 April 2016 tot op hede, is ‘n skokkende 58 wapens, wat meer as dertig gevaarlike wapens soos aanvalsgewere insluit, gesteel en verloor by die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW). Daarby is byna 8000 rondes ammunisie gesteel, hoofsaaklik vir aanvalsgewere, asook 36 handgranate.
“Dié diefstal en verlies van wapens en ammunisie by die SANW bly kommerwekkend en dit wil voorkom of die weermag nie die vermoë het om voorkomend op te tree teen misdaad en ongedissiplineerdheid in sy eie geledere nie,” sê die Vryheidsfront Plus na aanleiding van dié syfers.
Die syfers het aan die lig gekom uit ʼn antwoord van die minister van verdediging en militêre veterane (Nosiviwe Mapisa-Nqakula) op geskrewe parlementêre vrae van die VF Plus oor die aangeleentheid.
Die party sê nou die weermag moet met erns aandag gee aan dissipline en gewone misdaad binne sy geledere aangesien hy toenemend besig is om die publiek se vertroue in hom te verloor.
“Dit is skokkend om te dink hoeveel skade en bloedvergieting die gesteelde en verlore wapens kan veroorsaak en hoeveel daarvan in die hande van misdadigers kan beland wat by georganiseerde misdaad soos transitorooftogte betrokke is,”sê die Vryheidsfront Plus.
Die party sê dit moet dringend reggestel word. “ʼn Weermag kan nie funksioneer sonder behoorlike bestuur en dissipline nie.”


